Benjamin (3 jaar)

Selly kondig dit die hele dag op 14 Januarie aan. “Benjamin, jy is nou drie jaar oud!”

Jy, effe afgehaal. “Waar is my twee en ‘n half dan?”

Ai Benjamin, jy sê die oulikste goed. En soms hoor ons jy sing ‘n deuntjie, af in die gang, wat ons van g’n kant af ken nie.

Met Vlak 3, ‘n tweede keer, wil ek ook soms, soos net jy kan, met oorgawe huil. Dit is seker nie alles die bleddie Covid se skuld nie, maar ek haat die maskers van beleefdheid wat ons alewig moet dra. Soms wil ons ook goed gooi en ons voete stamp. Huil dat die blou druppels trane, nes in die cartoons, alle rigtings spat.

Maar dan sal jy weer stilraak. Opkyk en iets kwytraak, soos:

“Die donderweer praat nou báíé.”

Dit is die beste vroeë reënseisoen in 48 jaar, sê ‘n boer van Bultfontein tussen die poele. Party kan nou slegs per boot by die huis uitkom, maar Tonie van die weerkantoor lag my uit as ek vra oor ‘n moontlike herhaling van die 1981-vloed. Daar is wel sprake van ‘n sikloon, van swaarkry, kommer en baklei.

Maar ek is mal oor hoe die wolke jou aandag vang, hoe jy soos ‘n gansie vorentoe beur op die lang gras as die son eers gesig wys. Hoe jy jou handjie uitsteek na die eerste druppels. Hoe jy die vensters natspuit met die tuinslang en jou dan verwonder aan die patrone en hoe die lig deur die strale dans.

Kom ek die oggend bietjie vroeg by die kombuis aan. In jou katbakkie lê hawermout, melk, heuning. Bo-oop is ‘n tak rou broccoli op jou aandrang gedrapeer. Klink my ons moet nog steeds die groente en vrugte vir jou wegsteek.

Vanoggend is jy weer die Oom wat kaas verkoop.

“Dankie, goed, baai,” laat jy kaasmessie-in-die-hand hoor nadat ek ‘n regverdige stuk toegeken is. Ander kere ‘n roomysman wat die denkbeeldige klokkie tussen wysvinger en duim lui.

In die bad het jy weer die teëls laat antwoord met Mamma en Pappa wat uit hul mae lag.

“Ag, my ou bene!” het jy glo in die badwater soos ‘n ou man met ‘n diep sug daarby gesê.

En “Kom ons was Sussa se tonetjies.”

Voor slaaptyd, vertel Mamma, sal julle altyd ‘n bietjie gesels, stil word, en dan sal jy sê:

“Kom ons lees.”

Natuurlik kom elke dag met ‘n melt down of twee.

Jou gesiggie was verdwaas agter die rooi gloed en trane toe jy vir Pappa vra: “Hoekom huil ek so baie?”

“Hoekom” se sluise is nou wawyd oop. Oom Kobus sê die ander dag Mens moenie alles verstaan nie. As jy alles verstaan, bly daar niks vir anner oor nie.

Die oggend van jou verjaarsdag het ek misgeloop. Hulle is al sesuur na jou kamer toe, saam met Yua op die heup. Vra ek jou later die oggend wat jy gekry het (met die wete dat jy ‘n fietsie en die works, tot handskoene soos die motorfietsman, persent gekry het).

“‘n Cupcake,” sê jy met groot tevredenheid.

“Jy was ook daar.”

“Jammer liefie, ek het nog gedoedoe.”

“Ek by jou geslaap.”

“Nee, my skat, jy het in jou eie bedjie geslaap.” (Jy het tot op hede nog net een keer by my geslaap, en toe was jy skaars een.)

“Jesus my na jou toe gebring.”

Ek frons en vra skuinskop weer wie het jou na my gebring. Seker maak die ou ore hoor reg.

“Jesus het my na jou gebring.”

I rest my case.

Veels geluk, liewe seuntjie, nie net omdat jy verjaar nie. Omlat jy bly opkyk en sekere hoekoms met verwondering in jou hartjie tot rus laat.

3 thoughts on “Benjamin (3 jaar)

Leave a Reply to Tannie Frannie Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s