Twee en ‘n half vir Benjamin

Only the children know what they are looking for.’ — Antoine de Saint-Exupéry uit Gisela Ullyat se digbundel, ‘Die waarheid oor duiwe’

Dit is heeltemal sinvol om saam met jou bulldozer (of “boelDOZEr”, soos jy dit sê) te bad. Jy is nou twee en ‘n half en wat vir die groot mense na verspottigheid lyk, is jou wêreldjie se protokol. Die kanariegeel implement was veral nou die dag handig by die “ander mense se sand” af in die straat, toe jy jou heel eerste maatjie van die buurt gemaak het.

Die hoop sand waar jy graag speel is voor ‘n halfgeboude huis ‘n paar treë van ons s’n af. “Hier is ‘n kleeeeeeein babatjie” het jy my vertel die eerste keer toe ons daar gaan speel het. Ek het gefrons, wat jy het na ‘n stuk verlate agtertuin gewys. Maar ek het later gehoor jy praat eintlik van die huis langsaan die bouperseel.

En hierdie huis, waar die baba woon, straal iets uit wat die wêreld voor dors is. Agter die duiwelsvurk is ‘n enamelskottel vol grond en gesiggies om jou welkom te heet. Selfs die tuinwerker is soos iets uit ‘n boek. Sy geel trui span om sy Kersvadermaag en hier en daar is ‘n gaatjie, maar hy glimlag met ‘n gleuf tussen sy tande. “Dis reg, oubaas,” sê hy vir jou toe jy weer na die groot berg mik met jou boeldouzer. Voor die einste huis, was daar nou die dag ‘n boks vol suurlemoene met “Free lemons” in koukiepen geskryf.

Gewone mense wat net gaaf wil wees. Af in die straat trap ‘n ouerige oom in sy voortuin asof hy wil kyk hoe los die grond nou eintlik is. Sy masker is afgedruk oor sy ken. Elke nou en dan buk hy om ‘n stukkie onkruid uit te trek. Die seuns speel sokker op die eiland voor die kerk.

Toe ek die foto van die gratis sitrusvrugte op Facebook deel wil iemand weet waar dit is, sy benodig dit vir haar gastehuis se kombuis. Sy snap nie dat dit juis vir almal is nie. Dat die magic lê in die selflose geskenk vir die moeë verbyganger nie. En net die wete van die boks is bedoel om die kyker op ‘n manier te seën. Daar is geen transaksie nie, dis ‘n geskenk.

Hoe dit ookal sy, niemand kon ons voorberei toe die blonde seuntjie van oorkant die straat met mening na ons toe stap en sê “Hallo, ek is Eduan Bakkes, en ek is drie jaar oud. Hier het ek ‘n eina (verwysend na sy onderlippie) en daar is ‘n salfie op.” Hierdie aankondiging het ons almal stom gelaat. Jy’t grootoog agter die berg geloer, lank oor sy stellings gedink en geantwoord: “Kyk my skoene!”

Daarna was dit minstens ‘n halfuur se speel al om die sandberg met ‘n gereelde “kyk hier, Maatjie”. Ook as jou ander maatjie, Petrus, by die huis kom speel, is sosiale afstand taboe. Petrus is meer van ‘n check-dinge-uit outjie, maar met jou gesiggie teenaan syne, sal jy hom uitnooi om op die dlammak te spring, ‘n mamoen te verorber, of saam met Precious TV te kyk. Maar die feit bly staan, die breë glimlag op jou gesig verflou nie vir ‘n oomblik as daar ‘n maatjie in die omtrek is nie.

So word elke hoop sand ‘n mekka van geselsies en gedelf met kleurvolle grawe van plastiek. Elke afskeid is belaai met klaagliedere. En elke aand droom jy van Nemo, tjoklit melkies, Mamma, Pappa, die oumas, Betta, en hope en hope maatjies.

Die kersie op die koek is daar is minder “insidente” met Sussa, en daarom is hierdie tannie Laksie oneindig trots op jou. Maar maak nie saak wat jy doen of nie doen nie, weet net ons harte loop oor van liefde vir jou, nes daai goudgeel boeldozer wat so swaar dra aan ‘n duisend en een sandkorreltjies.

Charlie Mackesy

2 thoughts on “Twee en ‘n half vir Benjamin

Leave a Reply to cherenester Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s