Fees van die genooide

Ek is gesê om jou te vertel van Saterdag*. Hoewel dit haas onmoontlik is om die mistieke met ‘n versameling van letters uit die alfabet weer te gee, glo ek dit is my werk om te probeer (al gaan ek heel waarskynlik hierdie stuk later uitvee). So terwyl die cursor onverpoosd voort flikker, gaan ek probeer vasvang wat ek die middag van 4 Julie 2020 beleef het.

Waar twee of meer bymekaarkom is veronderstel om ‘n goeie ding te wees, maar soms is die vyf of meer vir my ‘n papierdoring in die vlees. Veral as jy niemand ken nie en jou handpalms begin sweet. Maar die gasvrou lê my na aan die hart.

Louise was eens die boer van velde laventelbosse. Die aroma wat haar geselskap los is ‘n gebroke laventelblaar. Sy is is die versinnebeelding van hoe ek ouer wil word. ‘n Suksesvolle lewe is een wat soveel teerheid, styl, en selfloosheid in gelyke mates oplewer. Haar hande gesels saam en sy is altyd opgewonde oor iets, maak nie saak hoe klein nie. Party mense is soos ‘n Aga-stofie, wat opgregte hitte uitstraal en mense lok. Nie ‘n bo-langse blaas verwarmer wat net geraas maak, vinnig verkoel en die vel uitdroog nie. Nee, Louise is ‘n Aga, met wysheid as haar kroon.

So toe sy my nooi na haar 60ste, was dit vansselfsprekend dat ek saaam ‘n glasie op haar wil klink.

Behalwe dat dit nou teen die wet is, loop dit boonop lynreg teen die grein van die INFJ-persoonlikheidstipe om tuis in ‘n groot groep te voel. Moenie die leuen glo dat ons nie van mense hou nie. Ek sien ook uit na feesmaaltafels en partyjies in die hiernamaals. En ek bid dat daar miljoene en miljoene mense gaan wees, al weet ek nie hoe dit gaan werk nie. Dalk bly my geite hier agter, of dalk sal ek by die engele gaan sit as die skares te veel voel, maar as ek vir jou sê ‘n groot groep mense laat my benoud, moet jy my glo, ten minste net vir die kwartuur wat jy hier lees.

Die motors se dakke slaan die winterson soos tennisrakkette na my kant toe. Die stoep na-aap die reuse grasperk met sy lengte en breedte. Ek sit een voet voor die ander na die rigting van die vreemdelinge. Dankie tog; een vrou uit my verre verlede kom maak praatjies. ‘n Paar asemteue later wik en weeg ek by die koeldranktafel sonder om ‘n druppel te skink. Uiteindelik kom Louise uit, maar ek durf nie haar aandag opeis met soveel (effens intimiderende) vroue om ons nie.

Dalk moet ek eers ‘n prentjie skets, liefste leser. My laerskooldae het ‘n bietjie as volg gelyk. As die pouseklok lui, wag ek dat die kinders by die snoepie drom en iets tussen ‘n massa en ‘n ry vorm. Dan gaan staan ek heel agter en laat die golf van stampe en stote my vorentoe druk. As ek uiteindelik voor kom, gaan staan ek weer agter om die tyd om te kry en om my alleenheid te verdoesel. Dalk was dit die nabyheid van my medemens waarna ek gesmag het, al was dit kaalvoet, modderbesmeerde medemense.

Oor 20 minute vlug ek, neem ek die eed saggies af.

My horlosie sê sewe minute is vertstreke, en ek wonder hoe kwaad sy sou wees as ek sommer nou die pad na die blink karre vat. Maar meteens beweeg die groep na binne, en ek laat die stroom my woordeloos saamsleur, ‘n bietjie soos met my snoepiedae.

“Uh, Sam? Sam??” Die vrou in die middel van die vertrek ken ek tog. Oor die gedruis hoor sy uiteindelik my kwynende stem. Ons gesels gemoedelik, maar in die hoek van my oog merk ek hoe die skare een-een ‘n sitplek kry. Waar sal ek sit? Almal kyk vir my, die bleeksiel wat met een van die sittendes praat. Hier kom ‘n formaliteit wat stoelsit verg. Wat nou!!!!

Ek druk ‘n sliert agter my oor. Wyfende hande roep my nader. Drie beeldskone gawe gesigte wys na ‘n oop sitplek aan hul tafel. Ek voel die verbasing op my voorkop. Soos ‘n gevrommelde legkaartstuk wriemel ek my bene onder die tafel. ‘n Koppie met my naam op! “Jou woorde het krag, en genesing. Skryf hulle!” Ek kyk op, al moet my wange teen hierdie tyd ‘n nuwe skakering Revlon-rooi wees.

‘n Terapeut, ‘n prokureur, en ‘n kunstenaar heet my welkom asof ek die gas is. Ek kan sweer die lig het verander. ‘n Euforie sak soos wit donsvere oor ons neer. Ek haal diep asem. Het jy al ooit 100% aanvaar en selfs gehoort gevoel. Nadat jou diepste vrees aangewakker is? Dit voel of ek na ‘n vermoeiende dag in ‘n stomende bad klim. Dis drie hegte vriendinne, kom jy agter, maar jy is sommer ‘n nuwe vriendin wat ooparms ingenooi word. Hulle vrae vra sonder om ‘n prentjie oor my met hul eie kryte in te kleur.

Die terapeut gesels oor ver lande. Dan val die prokureur in oor ‘n onvergeetlike boek. “Mountains of Spices. . . oe, dit het my getref. Jy MOET dit lees,” sê sy en druk my arm asof ons mekaar al jare ken. Is dit nie dieselfde skrywer as Hind’s feet on high places nie, kry ek uit. Ja, ja, ja. Dit is sy, sê die vrou met ‘n sagtheid in haar oë.

Jong sjefs dra skinkborde rond. Nes ek afkyk is daar ‘n nuwe dekadente prentjie onder my ken. Ons lag en gesels en ontdek saam ons weggesteekte drome en verlange. Die terapeut en die prokureur deel diep dinge, maar ek voel nie een oomblik uitgesluit of blootgestel nie. Ons is nie een soos mekaar nie, maar smul aan mekaar se stories en insigte (al het ek net rooi wange en nuuskierigheid om te bied). Die kunstenaar luister met albei ore. Haar stilte is soos ‘n karos oor haar skouers, en dit is helend waar die Saterdagoggend son skrefiesoë by ons inloer.

Dis bisar, maar dit voel ‘n bietjie of ek huis toe gekom het. En dis nie oor die macaroons nie. Ek is tussen die engele gesit is toe dinge ‘n bietjie te veel voel. Ja, die hemel het die aarde ‘n sagte drukkie kom gee op 4 Julie. Wel, ten minste op my stukkie aarde.

Almal raak stil, dis tyd vir die toesprake. ‘n Vrou met kort hare praat die trane uit my ooghoeke uit. Ja, dit is hoe ek vir Louise ken, al ken ons mekaar slegs ‘n halwe jaar. Ons vier haar, asook die mensliewendheid wat sy uitstraal. Daar is nie ‘n sweempie valsheid in die vertrek nie. Skielik is ek deel van ‘n groep sielsusters wat feeshou en mekaar op die hande dra. Wat die lappe van mekaar se koppe haal soos Lasarus se mense gemaak het, om weer te kan sien. Om die waarheid in te drink.

Ek wil ‘n foto van my bord neem. Die terapeut rangskik ‘n roos elegant digby die nagereg. ‘n Kinderlike lag borrel van êrens binne my. Bestaan daar nog sulke kindness in vandag se klippekou bestaan?

Tyd vir koffie en ons vier vroue huddle asof lewensbelangrike sake bespreek word. “At the back of the north wind,” sê die terapeut, “is ‘n moet”. Ek het geen benul waarvan sy praat nie, maar my gees sê maak ‘n nota. Hul boekepraatjies word in daardie einste huis voor ‘n kaggel gehou, waar hulle diep dinge bespreek. CS Lewis, Hannah Hurnard, George MacDonald. Laasgenoemde is die skrywer van “At the back of the north wind”.

Die kunstenaar begin saam gesels. Sy straal en frommel haar neus as die prokureur vertel van haar mooi seun. Hulle is eintlik plaasmense, hoor ek. En dan moet ek my kakebeen van die grond aftel toe die prokureur my die kunstenaar se werke wys op haar selfoonskerm. Haar kalligrafie gee ink op papier vlerke en laat die woorde dans. ‘n Bietjie soos die lig wat soos Kindness self tussen ons kom lê het. En soms lê die woorde bo-oor mekaar, en maak dit die mooiste patrone, soos wanneer vier vroue saamgesels.

Na vier ure is dit swaar om te groet. Ek wil nie ontwaak van die droom met sy duisend stories en lagplooie nie.

Die aand kruip ek in my bed en dink aan die feestafel met drie menslike Engele. Koningklikes in karakter, wat nuwe lewe in my gees geblaas het. Die Here het my regtig kom bederf vandag, dink ek en pof my kussing uit. Hy weet so wat ‘n mens nodig het! Mag ek ook ‘n vreemdeling eendag so tuis laat voel. Ek koop “At the back of the north wind” vir twee dollar op Amazon, en raak meegevoer na ver lande agter my selfoonskerm. Dalk hou die lewe nog goeie verassings in haar handpalm. Dalk hoef ek nie met ‘n leë hart voor ‘n snoepie om te draai nie. Hoef ek nie meer te glo soos toe ek ‘n kind was nie.

Dit was Saterdag 4 Julie. Dit was die fees van die genooide.

*Met apologie aan George MacDonald.

One thought on “Fees van die genooide

Leave a Reply to Tannie Frannie Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s