Optelgoed

Sy probeer tevergeefs om verby die vrou se weerkaatsing, anderkant die donker treinvenster te kyk. Tydskrif-wangbene omring deur ‘n krullebos wat saam met die duisternis smelt. In ‘n ander klas. Bruin porseleinvel. Daar was ‘n tyd dat sy ook so ‘n soel vel gehad het, dink sy, en vryf oor ‘n nuwe rofie op haar ken. 

“Can I help, ma’am?”

Haar hart tref ‘n slaggat. Twee oë kyk stip in hare.

“Sorry. I am sleeping with my eyes wide open.”

Sy wil haarself én haar aksent in ‘n gat begrawe.

“Welcome to Oxford station. Alight here,” kraak die luidsprekers tot haar redding.

Sy swaai haar leersak oor haar kop. Vou haar serp dubbeld vir die yswind wat die ene tande buite wag. Danksy haar alewige wonderlus is haar beursie so dun soos Covent Garden se systraatjies. Al wat sy wil doen is om die bekende Bobdleian-biblioteek binne te stap. Rond te drentel. Is dit te veel gevra vir ‘n meisie van Dewetsdorp? 

Met ‘n wegneemkoffie in die hand en ‘n droomverlore gedagtegang skrik sy vir einste krullebos in ‘n antieke winkel op die stil hoek van Magpie-laan. 

“You again,” klink dit opgewek agter die toonbank. Sy knik verleë en skrik toe die deur haar boude piets terwyl die klokkies haar aankoms bevestig. 

“That bag, dear. Let me see,” sê Krulle met ‘n heuningstem. 

Half uit die veld geslaan gehoorsaam sy tog. Haar sak word soos ‘n pasiënt op die toonbank oopgespalk. Bekende krake, die rooiwynspatsel van daardie aand, en pennemerke soos spatare lê nou onder die goudgeel lig. Sy kyk daarna asof vir die eerste keer.  

“This is a Valedictorian satchel.” ‘n Slanke vinger streel oor die bewoording ingeëts in die leerwerk. “Look, it says ‘US Mail’. 1943.”

Sy’t geweet dis oud, maar. . . Iets om te bewonder in Oxford, knus onder haar oksel? 

“I wasn’t really thinking of selling it.”

“This is quite precious, yeah. How about two thousands pounds? C’mon.” Aanhitsing en intimidering.

Wat de os? Dis amper R50 000. Deposito vir ‘n ryding. Dalk Skotland.

Sy glimlag vasberade, skud haar kop, en druk die leë sak vol herinneringe teen haar bors. En laat die klokkies vir oulaas agter haar rinkel.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s