Die bloed het gevloei

Hy hou nie van daardie woord nie, “vloei”. Maar die jong paramedikus moes woorde gebruik wat by die nooddienste se standaard uitvoerprosedures pas. Daar was geen ruimte vir kreatiwiteit nie.  

Hy het ‘n suurstofsak gedruk en sy kollega het ‘n pasiënt se bors gepomp. 

Een, twee, drie. Geen reaksie nie. En toe, ‘n fladdering van oogwimpers rondom vernoude pupille. Moet ek dit neerskryf? het hy gedink. Hy het na sy kollega gekyk. Hy durf nie haar toewyding aan die opstanding van die dooies versteur nie. Hy sal later vra. 

Die bloed het gevloei. 

Hy het Luka se toontjie gesoen toe dié knapie dit per ongeluk met sy plastiefgraaf raakgespit het. Luka wou sy held in die neongeelbaadjie help in die tuin voordat hy moes regmaak vir die aand op die pad. Dat ‘n tweejarige ook ‘n bydrae wil maak, gaan sy verstand te bowe.

Hy wens hy kon gaan sit en skryf hoe sy seun hom oorgee aan die hartseer in sy arms as hy seerkry. Hoe sy asblou oë staar terwyl hy die die Disney-pleister een, twee, drie keer om sy toon bind. Hy sal met sy aandskof verskeie kere dié oomblik herleef. “Pappa, ‘n bietjie vashou.” Hoe ‘n handjie op sy 31-jarige skouer voel terwyl hul albei die troos indrink.

Hy sal moet onthou om hierdie beeld vanaand op papier te kry, nadat hy vreemdelinge se traumas deurleef het. Die vorige nag se dooie pupille bly hom by. Hy sal die kruik moet skoonkry sodat die woorde kan vloei. 

Die bloed het gevloei.

Dit was die eerste week van die staat van inperking. Net hy, sy en die kind. Geen werk en die vier mure van hul huis, is iets wat haar sou onderkry, dit het hy geweet, maar hy het haar dowwe oë misgekyk.

Nagte om in ambulanse. Covid-19-gevalle wat ophoop in die townships. Hy doen dit net vir haar. Vir hulle. Hy staar na haar terwyl sy slaap, terwyl sy klere in die motorhuis lê om die virus weg te hou. Hy luister na hoe die water om haar lyf dans wanneer sy bad. Dalk is dit ‘n inkubasietyd vir heelword tussen hom en haar. Hy kan net hoop. Roetine, sê die kenner op RSG is nou almal se redding.

Die bloed het gevloei.

Hy kon nooit slaap as die aandskof verby is nie. Al die struweling om te leef het soms ‘n dooie gevoel binne hom veroorsaak. Die adrenalien het die septer geswaai. In sy studeerkamer kon hy die woorde uitpak en rangskik tot dit sin maak. “Ons huis is in ‘n reënwolk gehul,” skryf hy in die notaboek. “Met ‘n sluimerende virus daar buite. Trauma is my reisgenoot, eensaamheid my kleed. Ellende my suurstofsak.” Nee, nee, nee. Daar moet ‘n beter manier wees om dit te sê sonder al die drama. Hy blaai om. 

Die bloed het gevloei.

Hy lag vir die ironie van sy skuilnaam, wat eers nou volle betekenis begin kry. 

“Loki de Grendel”. Perfek vir hierdie toesluittyd. Nie eers sy weet van sy geheim nie. Die boeke wat opstapel. Moerse aanhanger van mnr. De Grendel, moet sy dink. Maar soggens tussen drie en vyf is die magiese skryftyd waar hy wendings uitdink en beskrywings slyp. Want sy agent by Tafelberg wag vir die sesde roman. En geen dood of beroerte het of sal dit ooit belemmer nie. “Loki de Grendel doen nie bekendstellings nie en teken ongelukkig nie eksemplare nie,” het dit in ‘n artikel op Litnet gestaan. Dié misterieuse figuur skryf onder ‘n skuilnaam. Hy sê hy skryf vir homself en vir sy leser. “Ek buig nie die knie vir ‘n kamma sukses en die wêreld se aanvaarding nie.” Dit is die waarheid. En wat ‘n grap sal dit nie wees nie; die paramedikus wat dink hy is ‘n skrywer. 

Hy betrap haar waar sy na haarself staar in die spieël. Haar lyf onveranderd toe hy agter haar gaan staan.

Hy moes weet daar is fout toe haar kamerlig aan is ná sy skof. Die dik, rooi vloeistof maak ‘n spinnerak onder haar pols. Adrenalien skop in.

Hy laai haar in sy eie ambulans. By die hospitaal help sy kollega en ‘n hele span. Alles in ‘n waas. Die inperking en haar swaar gedagtes, mnr. Ramaphosa, was een te veel.

“Sy moet nou rus. Jy ook. Vat twee weke af,” kom die dokter se hemelse antwoord ná ‘n paar uur. 

‘n Inkubasietyd vir heelword.

Vir nuwe bloed wat deur ‘n ou hart vloei.  

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s