Koning Zues kry huis

Lisa Samuels plak albei elmboë op die rooi tafel weerskante van haar skootrekenaar. Sy sug diep, vryf haar oë. By die Wimpy op Clocolan is daar niemand nie behalwe sy, Koning Zues, en ‘n gesin van vier, doer in die hoek. Nog net ‘n halfuur se ry dan is sy en die reuse dierasie by hul eindbestemming. 

Dit was die sewende jaar van absolute enkelskap vir Lisa. Haar koerskies op alleenpaaie in die dorre Vrystaat het haar lot verder ingekleur. Dié stil vrou se jongste missie was om Tant Frikkie se Maine Coone-kat na ‘n gawe vreemdeling in Ficksburg te neem. Elk van hierdie gunsies was ‘n soort mini avontuur vir haar. Of so het sy haarself probeer oortuig. Want Groenland is te ver vir haar beursie, en gewone stories is soms die bestes.

Jolin, soos haar naamplaatjie aandui, bring haar rekening. Die rooi lekker buig eerder as kraak in Lisa se mond.  

“Is dit ‘n kat daarbinne, Mevrou?” sê die meisie met ‘n keep tussen haar oë en tel ‘n gevrommelde servet op. 

“Jip, ‘n vet kieterkat broei hierbinne,” sê Lisa skalks en loer na die kat se seegroen oë in die donkerte en dan verby Jolin na die bestuurder by die toonbank, wie se blik vlugtig hare vang. 

“Hoop nie dis ‘n probleem nie. Maar heng, dis ‘n oond daarbuite.”

“Als reg. Solank hy binne bly. . . ek en katte is nie maats nie.”

Lisa hou van katte, maar daar is iets aan die blote massiwiteit van dié dier wat haar benoud maak. Hy is ‘n bol liefde, dit weet sy met al die kuiers by haar gunsteling tannie. Maar diep binne besef sy daar is iets wilds aan hom. Iets wat sê hy kan haar seermaak. Stukkendkrap, sou hy wou.

Die hitte slaan haar in die gesig toe sy die winkel verlaat. Dan wikkel sy die gordel oor die drakas en stap om die Swift. Terwyl sy haar sonbril skoonvee, wonder sy of sy Ficksburg reg onthou. Al wat sy in haar geheuebank kan opdiep is die Kersiefees en Die Blikplek, wat sy op skool laas besoek het. Ná ‘n dekade en ‘n half is dit sekerlik heel anders.

Maar die ene Hannes woon buite die dorp, teenaan die berg. Hemelkrans nr. 9 wou nie op Google Maps se soekenjin verskyn nie. Tant Frikkie is dapper. Sy het nog nooit vir Hannes ontmoet nie. Hy is die vreemdeling wat haar tannie uitgekies het. Koning Zues moes ‘n nuwe huis kry. Want almal weet wat niemand wil sê nie.

Sy sal op haar instink moet staatmaak, dink Lisa terwyl sy met Zues op die agtersitpleklangs op die N8-hoofweg klim. Op die stil pad wieg die klanke van Vivaldi se vier seisoene sodat sy later elke instrument in haar gedagtes kan sien. Skielik verdwyn die musiek. ‘n Wit skynsel langs die pad word al hoe duideliker. Lisa trap rem sodat haar bobeenspier kramp. Die klank van bande kondig haar stilstand aan. 

Daar staan hy tog. ‘n Blonde seuntjie, vier bakstene hoog, definitief nie ouer as drie nie.

In die stilte ruk sy haar Ray-Bans af en knip haar oë drie, vier keer. Tensy daar iets in die Wimpy-burger was en haar kop haar nie bedrieg nie, sien sy ‘n peuter in ‘n doek en ‘n maroen Billabong T-hempie. Sy kyk rond, net die halfdorre Vrystaatse lug en die seuntjie, sonder ‘n volwassene in sig.

“Ha. . . Hallo?”

Hy druk sy vingertjie in sy mond en loer haar grootoog aan. Lisa weet dit kan ‘n nare truuk wees, en betrag die lae bossies rondom die kind. Sy stoot haar motordeur stadig oop. 

“Wat maak jy hier, boeta?”

“Warm,” sê die peuter met ‘n rollende “r”. Die Vrystaatse bries trek haar gloeiende vingers deur die seuntjie se blonde lokke. Dan stap Lisa nader, voel aan sy voorkoppie. Tel hom op. 

“Soos ‘n veertjie,” sê sy en kyk angstig om haar rond.

“Wat maak jy hier, liefielyf?” Sy maak of sy nie die warm vloeistof deur sy doek, en nou deur haar T-hemp voel nie.

Nes sy die passasierdeur wil oopmaak, jaag ‘n vragmotor verby, met die bestuurder wat skaars in haar rigting kyk. Sy trek die passasierdeur versigtig oop. Maak hom sit en druk sy sitplekgordel in plek. Dan draf sy om, slaan die deur toe. Druk die sentrale sluitstelsel twee, drie keer.

“Waar’s jou mense?”

“Waater.”

“Natuurlik. Hierso, my skat” sê sy en ruk die waterbottel se verseëlde prop of met haar tande. Dan grawe sy vir die pakkie Nik Naks en voel dadelik spyt dat sy nie nog eetgoed by die kafee gekoop het nie. Hy vat een skyfie uit die pakkie. Sy pofhandjies bruin van die sand. 

Sy sug en loer op haar horlosie. Hulle sal dit nog betyds in Ficksburg maak om vinnig voor sy terug ry by die polisiestasie stil te hou, dink sy. 

Sy loer kort-kort na die seuntjie en voel aardig wanneer sy op haar bors tik en sê: “Ek is Lisa, en jou naam is?”

Maar sy ogies bly op die lusernvelde, sonneblomme, blou lig met spatsels wolk. Die fyn haartjies op sy bolwang maak ‘n ligkrans met die sonlig duskant die pad. 

Koning Zues weet skaars van die ekstra passasier se bestaan. Die seuntjie loer gemaak-kwaai na die kat. ‘n Dimpeltjie duik in sy sandbesmeerde wangetjie en Lisa voel hoe haar hart vermurwe.

Die dorp se breë strate eggo die eindelose “wat nou?”. Die son trek water en sy moes al by Hannes, wat nie weet hoe om ‘n verlakse pin te stuur nie, by sy huis kry.

By die vulstasie het hulle  nog nooit van Hemelkrans gehoor nie, maar ‘n man in ‘n kakiehemp staan nader en verduidelik haar na die oostelike rigting, waar die bergheuwels opmekaar gestapel lê.

“Hannes Vos? Nee my kjind,” sê die boer en krap aan sy baard. “Ek ken almal in die distrik. Moet ‘n inkommer wees.”

“Als reg, Oom. Of dalk is hy ‘n kluisenaar.” 

Die man lyk skielik uitgeput. Knik sy kop vir nog ‘n boer wat sy Ford Ranger volmaak en frons net vir Lisa toe sy wuifend wegry.

Sy neem die afdraai soos hy verduidelik het, maar sien geen bord nie. Ná tien minute, net toe sy wou tou opgooi en terugry dorp toe, sien sy die lendelam bord met “Hemelkrans” uitgekerf. 

Die Swift klim op en op totdat daar ‘n paar wydverspreide huise hulle nader wink. Sy hou voor nr. 9 stil. 

“Kyk die mooie huisie, seun.”

Maar toe sy uiteindelik na links kyk, sien sy hy is nes Koning Zues, vas aan die slaap. 

Sy klim uit en klop drie ritmiese kloppe teen die ou houtdeur. Sy moet op kyk na die man met sy grys stoppelbaard en sagte oë. Daar is iets speels, waansinnig en prettigs in sy oë. Dit trek die glimlag uit ‘n senuagtige Lisa. 

“Ja?” sê hy asof hy wag dat sy ‘n grappie moet klaar vertel.

“Lisa, skuus, ek is Lisa. . . Tant Frikkie het my gestuur. Ek het die Maine Coone gebring?”

“Ah! Dankie, ek is nounet klaar om sy kamer in te rig. Jy moet dit sien, hy gaan wraggies soos ‘n royal bly.”

Lisa druk ‘n sliert agter haar oor. 

“Ek sal graag wil sien. Ek… het net so ‘n ietwat van ‘n situasie.”

“Wat makeer, suster?”

Sy wou nie gehad hê die man moet agter haar aan stap nie, maar hy is die soort wat nog deure vir ‘n vrou oopmaak, dink sy wrang.

“Is dié slapende prinsie joune?”

Haar hart timmer haar borskas.

Hy is reeds by die agterste sitplek, besig om die drakas uit te tel en deur die hekkie vir die kat te loer.

“Hallo, jou mooie reus” Sy oë trek op strepies van die vreugde op sy gesig. “Ou Zuesterkind sal oukei wees,” sê hy en steek vas met die drakas in sy arms. 

“Uh, wil julle inkom? Dalk kan ek vir die man ‘n glasie Oros gee? Toe, julle kan nie net wil ry nie.”

Lisa frons teen die laaste sonlig, wat nou rooi teen die seuntjie se gesig gloei. 

“Nee. Ek… Jy gaan dit nie glo nie, maar ek, ek het die mannetjie nounou langs die pad opgetel.” Haar hand bewe met die terugdruk van ‘n sliert agter haar oor. “Daar was niemand in sig nie. Hy het net so langs die pad gestaan!”

Hannes kyk haar ongelowig aan.

“Ek kon mos nie net… verbyry nie. Jirlikheid.”

“Natuurlik. Wat is jou plan, Dolla? Ek sal saam met jou polisiestasie toe gaan.”

Hy kyk op sy polshorlosie. 

“Dis laat, jy is tog nie. . . van plan om terug te ry Bloem toe nie?”

Lisa knik net. Sy het skielik nie die krag om haar te verset nie, al keer niks haar om die jappiekat in sy arms te prop en te laat wiel nie. 

“Net as ek in jou kar kan wag. Ek sien net nie nou kans vir ‘n polisiekantoor en vorms nie.”

‘n Enkele lig skyn buite die polisiekantoor. Dit lok ‘n duisend miggies in die stilte. 

Sy hou die kantoordeur soos ‘n valk dop en merk skaars die wit Atios langs Hannes se Land Rover. Ná ‘n halfuur, net toe haar geduld opdroog, kom daar drie mense uit. 

Die blonde vrou huil en die seuntjie se kop rus in haar nek. 

“Deidre, dis Lisa. Lisa, dis Luka, die prinsie, se ma. Jy het vandag sy lewe gered.”

“Ek sal nie so ver gaan nie,” is al wat Lisa met ‘n skewe glimlag uitkry terwyl Deidre haar styf druk.

Dan staan Hannes nader terwyl Deidre na die Atios met klein Luka stap. 

“Deidre het ‘n bejaarde egpaar gevra om vir ‘n paar uur na hom te kyk wanneer sy vir ‘n onderhoud op die dorp gaan,” vertel hy met net die kriekegesang in die agtergrond. Sy voel die hitte van sy bors hier naby haar gesig.  

“Hulle het hom wraggies vergeet toe hulle tussen Clocolan en Ficksburg stilhou vir ‘n klein piekniek. Jy moes hom opgetel het, net toe hulle terugdraai, want Deidre sê hulle het kort daarna hul fout besef en teruggejaag.”

Die hitte van sy nabyheid voel vir haar vertroostend. Dan kom daar twee sterk arms om haar, soos ‘n slotsom van die vreemde dag. Skielik hoor sy niks meer nie. 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s