Benjamin (2 j., 4 mnde)

Woordelys en uitdrukkings ter verklaring:

  • Attedlief: Asseblief
  • Attetênsie: Advertensie
  • Babbôn: Ballon
  • Amper bang ek: Bang word hier met reg ingespan as werkwoord
  • Batties: Om te bad
  • Boem: Om te val
  • Dahddie: Fopspeen (afkomstig van die Engelse “dummy”)
  • Dlammak: Om op die trampolien te gaan spring (kom van die liedjie “Jam blik, jam blik. . .” uit my ma se kinderdae in Suidwes. Die res van die liedjie is nie PC nie, maar ons vervang dit met ‘n ander wysie.)
  • Habbûk: Hardloop (daar habbûk ek)
  • Kies: Skuus
  • Laf: Die stukkie satyn wat aan ‘n “bers” vasgewerk is
  • Look: Look is die mannetjie op Baby Einstein
  • Look nou kom!: Ons moet net aanhou TV kyk, Look gaan binnekort verskyn
  • Map: Mors
  • Ouma Hêttie: Benjamin se weergawe van “oh my hat” wat ek uit gewoonte sê.
  • Pienk en Pay: Pick ‘n Pay
  • Komtasie: Kitaar
  • Daar val die Cheetah: Benjamin verwys die meeste van die tyd na homself in die derde persoon. En as daar ‘n bal betrokke is, word hy “die Cheetah”.

Die son raak swaar met die einde van nog ‘n grendeldag. “Mamma, kyk!” klink dit deur die gang. “Een, twee, VYF!”. Dit is ‘n ander huis as jy nie hier is nie. Met lewe oral om my voel ek alles behalwe vasgekeer en uitgelewer aan myself.

Van Miela wat jy optel om gougou te liefkoos en om dan haar gekap na jou toe sonder ‘n traan te trotseer, tot Sussa wat haar armpies soos ‘n voëltjie wat wil opstyg swaai van opwinding oor niks spesifieks nie. Asjas bekruip ‘n mossie, Mamma stuur ‘n stemnota en êrens verf Pappa nog ‘n iets.

Vanaand het jy my deur die hoogtepunte van jou gunstelingboek, Slaaptydstories vir Seuns, gepraat. Dit is toe nie Sarel die Seemonster op die voorblad nie, het jy my vinnig daarop gewys, maar Ragel die Seemonster.

En die grappie van die oom ‘n paar bladsye aan met sy rooi baard wat kamma Mamma is, raak nooit ooit oud nie. Pienk Ouma Mattie en Ouma Riets kry ook elk ‘n kameerolletjie tussen die bladsye. Bo Ouma Mattie, ‘n natuurmens, se kop staan daar “grond te grawe”. . . en jy kan nog nie eens lees nie. Ouma Riets is altyd opgeruimd, en daar staan “glimlag” bo haar kop. So ‘n lawwe bos rooi hare het sy beslis nie, maar kyk die pêrels en die bypassende oorbelle.

En nou die aand ‘n splinternuwe vraag. “Waar is Mamma se Pappa?”

Jou kuif lê nou dik en raam jou strokiesprent gesiggie. “Waa’s my Precious nou?” sal jy buite in die son verneem as jou alleentydjie te lank voel. Precious is Betta se negejarige dogter wat deesdae jou speelmaat is. Die mooiste is dat Precious nie Afrikaans, Engels of Sotho praat nie.

Stom van skaam, maar deins nie terug vir ‘n bietjie lag en kielie nie. Sy het wel nou die oggend losgebreek en saam gesing met “My naam is Lollos, ek’s van ‘n ander planeet. Ek is ‘n oulike outjie, dit moet julle weet!

Betta vertel sy speel nooit ooit by die huis nie. Sit heeldag binne. Maar tussen julle is speel die doelwit en woorde nie ter sake om mekaar te vind nie. Sy is so vindingryk om gekleurde plastiekballe in die dlammak met sy net om te gooi. Julle speel vandat die son opkom, wanneer jy nog in jou pyjamas is, tot laat wanneer Klaas Vakie met sy rooi sakkie kom.

Ek moet bieg, soms flous ons jou, en soms lieg ons pertinent. Soos dat ek nog moet gaan paaseiers by Pienk en Pay moet gaan koop, terwyl daar ‘n vol boks in my kas is. “Attedlief, Tannie Lucky.” Daar is ook ‘n leë een, wat jy met vrede aanvaar as ek wys dat paaseiers nie op my rug groei nie. Anders mik ons vir vier per dag. En natuurlik moet Precious ook een kry. Alles moet gedeel word. Hoe mooi is jou hartjie, Benjamin.

Dit is so snaaks, waar Pappa altyd jou opgetel het en na buite gehaas het om die vliegtuig te bewonder, sal jy nou ook uit die bloute skree Mango is daarbuite. ‘n Bevange kyk in jou oë, voetjies wat op een plek trippel. So jy kry ook jou stukkie flous in. Maar jy weet nie dis flous nie, want al wat jy voel is vashou en opkyk en ‘n verwondering saam met jou held. Die hemelruim is nou leeg met arms vol belofte en onsekerheid. Maar daar is soveel vreugde om elke dag te ontgin. As ons net stilstaan en diep asem haal en ‘n bietjie lag.

“Moenie gaan nie, Tannie Lucky,” is op die oomblik die soetste woorde. En dat jy hierdie kwesbare poppie wat êrens teen ‘n muur hang aansien as ek voel soos ‘n seën wat jy oor my uitspreek.

Want haar ledemate is dryfhout.

3 thoughts on “Benjamin (2 j., 4 mnde)

Leave a Reply to Barenda Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s