Om te wag vir die robyne

In elke mens is daar ‘n wêreld om te ontdek. Dit is hoekom ek so lief vir my werk is. Al dink jy die mens wat voor jou sit is maar flou, half eendimensioneel, daag ek jou uit om te wag. Om te luister. Want my ervaring is die beste sinne en stories word eers aan die einde van die woordewisseling op die tafel uitgepak. In die oomblikke wanneer my vingers klaar konfetti met die strootjie se papier gerol en geflenter het.

Dit is alles in die nog ‘n bietjie sit, nog ‘n bietjie koes vir Tyd se tikker. Astrant wag ek vir die robyne om te kom. Ek het altyd so moerig vir my ma-le geraak as die kuiermense aanstaltes maak en die “groot groet” onder die straatlig by die mense se motor afspeel. Dan kan jy jou regmaak vir ten minste nog ‘n uur se rondstaan. Nou bewonder ek hierdie soort tydsaamheid en sien dit as iets om na te streef. Want dis dan wanneer plootjieoë dankie sê. . . want jy het geskies om ‘n Maria en nie ‘n Martha te wees nie.

Nie dat ek aanmoedig dat jy gomboudjies kry en sit en sit en sit terwyl die huishouding wil aangaan nie. Maar was jy al in ‘n koffieplek waar hulle die ligte een vir een begin afskakel vir toemaamtyd en jy selfbewus lag dat die tyd met julle weghuppel sonder dat julle dit agterkom?

Terug na my bron. Of sy gesit het, weet ek nie, maar toe Alet van Wyk bel en ons herinner dat dit die internasionale dag vir verpleegsters is en amper die foon neersit omdat sy verleë is, was dit wys om haar ‘n bietjie aan te por. En hoe bly is ek ek het! Sy het ‘n dogter wat in Somalië werk waar sy vanuit ‘n helikopter slagoffers van die terroristegroep Al Shabaab bystaan. Dan sê mense Bloem is boring! Alet woon in ‘n huisie in Hospitaalpark, waar jy maklik sal verbystap sonder om oë eers te knip. Intussen is daar ‘n vrou daarbinne met ‘n maroen lapel wat bid vir ‘n dogter tussen vure ver hiervandaan.

Ja, die Here het ‘n wêreld van oorloë en oorwinnings in elke mens gesit.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s