Each individual human creature is a galaxy of thought, experience, and emotion. You could dedicate your entire time here on earth to exploring just a fragment of one of these “galaxies” and your life would not be wasted. Understand, there is no normal life and there is no ordinary love. There are only phenomenons and miracles.
John Mark McMillan
Liefste Yua. Ons almal is baie trots op hoe jy elke klein mylpaal bereik, al is jou stem steeds klokkiefyn en jou vat steeds veertjiesag.

Ons het aan die begin gedink ouboetie Benjamin gaan jou eendag ore aansit, maar die laaste maand het ons gesien jy vul jou ruimtetjie mooi en neem jou plek volwaardig in. Deesdae maak jy hom selfs skrik met ‘n “bah!”.
Die beste is dat hy minder bedreig voel en jou nie meer knyp of al lêend skop nie!
Ek is versot op hoe jou ogies saam met jou mond lag. Jy het ‘n saak met die kwynende ekonomie of ‘n sluimerende virus. Jy geniet wel ‘n stukkie screen time en hap graag aan ‘n slimfoon.
Vanaand is jy klaar met die badskottel en het jy vir die heel eerste keer saam met Benjamin gebad, in ‘n grootmensbad. Mamma vertel ‘n wêreld het vir jou oopgegaan met al die speelgoed in ‘n see van kleur en golwe.

Dit is baie vreemd, maar jy het ook nou begin om “ajega” te sê, nes hy toe hy homself aan die slaap gesus het as babatjie. Dit was altyd sy laaste mantra voordat hy insluimer. Geen ander baba sê dit sover my kennis strek nie! “Hy sê ajega x 1000 keer” is die boodskap wat ek gekry het toe ek in ‘n warrelwind daai jaar vir my Uber op O.R. Tambo wag. Ek het nie ‘n clue gehad wat jou ma vir my probeer sê nie totdat ek dit self gehoor het. Maar ek onthou die boodskap die duidelikste. Snaaks hoe ons nooit sekere oomblikke vergeet nie.

Vandag was jy weer in jou pienk, wollerige beerpakkie. Dit is so lekker om my hande onder jou okseltjies te hou en ‘n Lion King-oomblik te hê met jou lyfie in die lig. En dan daai wange onder die kappie met sy ore te soen. Dit alles duld jy met grasie.
Dokter Diffenthal sê jy slaag al die toetse, dis net die slaap wat kan verbeter. Horlicks sal glo die ding doen, vir almal in die huis. Dit en Benjamin se paaseiers is nou op die Checkers-lys, want dit was my eerste belofte aan hom nou die dag en hy herinner my daagliks met ‘n “Winkel toe, dán paaseier”.
Ook jy is ‘n belofte wat nagekom is en ons sê baie, baie dankie. Mag jou slaap soet wees vanaand. Want jy is ‘n agt maande oue, lieflike klein galaxy wat elke dag nader aan die tikker in my bors wentel.

Ag dit laat mens se hart sommer so warm voel. Watter gelukkige kindertjies, om so ‘n tannie te he!
Pragtig!