Op die Here se voorstoep

“Our lives are lived in a sea of uncertainty and an ocean of ignorance, starting now. – John Piper

Dieselfde wakker oë op vandag se koerantvoorblad as die waarmee ek gister te doen gehad het. Irisse wat bruis van ‘n duisend stories.

Ouma Coba word môre 103 jaar oud. Sy het die Groot Griep as eenjarige dogtertjie in 1918 oorleef. Sy onthou nog die ysters om haar bene, sê sy, nes die poliolyers van ouds gedra het sodat hul bene weer reguit moet groei.

Foto: Charles Smith

Vandag het Ouma Coba weer met slot en grendel te doen. Maar niks kan die lig binne haar inperk nie. Ouer as ‘n eeu, maar die sagtheid van ‘n kind. Het sy as 35-jarige geweet wat vir haar voorlê? Ek twyfel.

Haar eerste man, ‘n dominee, is jonk dood, toe trou sy weer. Ook haar tweede liefde is reeds in die sewentigs dood. Maar daar moes tonne blydskap, tragedies, en die lewe in sy rouste vorm wees. Drie kinders, nege kleinkinders, vyftien agterkleinkinders. Verpleegster ook gewees. Hoeveel keer moes die hoeke van haar hart vermenigvuldig vir nog bêreplekkies? Elke krakie het nog liefde ingelaat. Haar grysblou oë met al sy rafyne gee dit weg.

Ouma Coba weet steeds dat sy nie weet nie. Haar hande rus sag op die leeromhulsel van haar Bybel. Daar moet inprentings van haar kronkelvingers wees wat oor die jare gevorm het, soos ‘n wilgerboom se sirkels. “Hou net aan die Here vas,” sê sy in ‘n weerlose stem.

John Piper, een van die min Amerikaanse pastore wie se leeringe ek vertrou, sê ons leef in ‘n see van onkunde. Sekuriteit, soos ons dit ken, is ‘n hengse illusie. Dit is nie nuus nie. Maar hoewel dit ‘n preek is wat hy in 2010 gelewer het, is dit ‘n stuk waarheid wat al hoe swaarder weeg met die pandemie wat vanaand buite in die reën sluimer.

Risiko, sê Pastoor Piper, is om nie te besef net mooi alles is ‘n risiko nie. “Risk is built into the very fabric of finite lives. You can’t escape risk. You HAVE to risk. All your plans for tomorrow’s activities can be shattered by a thousand unforeseen circumstances whether you stay at home under the covers, or drive on the freeways. You can’t avoid taking risk. Your life is out of your hands. You don’t know what is coming tomorrow.”

Die bekoring van sekuriteit het vele gevangenes. Niemand is in beheer nie, niemand leef ‘n risiko-vrye lewe nie.

Weer kyk ek na Ouma Coba se oë. Dit is “Bearing-the-cost” oë. “Bearing-the-cost” ook bekend as Vergifnis is ‘n vlamrooi blom se naam in die boek wat ek nou lees.

Dalk het Esther en Rut ook sulke oë gehad. Dit is oë wat lankal reeds hul draer se lewe neergelê het. Dit is oë wat gewoond daaraan is om op die horison te rus, maar ook om die mens voor haar werklik raak te sien. Oë wat buite die draer se sienings kan kyk.

Ek is jaloers op Coba, ‘n vrou wat ouer as ‘n eeu is. ‘n Vrou met eenhonderd voutjies in die gesig. ‘n Vrou wat dieselfde lug van onsekerheid as ek inasem. Sy kan dalk nie meer so goed hoor of sien nie, maar sy dra ongekende wysheid in haar rond. En een van die dae is sy in die Vader se arms waar slot en grendel nie deel van die woordeskat is nie.

2 thoughts on “Op die Here se voorstoep

Leave a Reply to Tannie Frannie Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s