Die lelike uitjie

Om terugvoer van jou naastes te vra is soos om gewyn in ‘n kaktusplantasie te huppel. Jy gaan jou gat sien, dis ‘n uitgemaakte saak. So vra ek met ‘n oop gemoed soos ‘n swaap vir eerlike antwoorde op ons gesin se WhatsApp-groep.

Wat sou my besiel om so iets te doen, vra jy. Wel, die moeilikheid het begin toe ek ‘n persoonlikheidstoets op Personality Hacker doen. Tien minute om vas te stel hoe die ratwerk van jou binneste draai. Daar vind ek toe uit ek is die INJF. Slegs 1.5% van die samelewing sit met hierdie lucky packet van die ingewikkelde geaardheid. Ek deel ‘n persoonlikheid met Marilyn Manson en Martin Luther King. Maar ek hou goeie moed.

‘n Paar bietjies TE reguit antwoorde later, deel ek tranerig my ervaring met Suretha, ‘n hartsvriendin wat my altyd laat veilig voel. Ek vra haar dieselfde vraag, waarop ‘n stilte volg. En toe stuur sy vir my ‘n videostukkie uit die kosprogram Jan. “Dit is hoe ek jou sien,” is al wat sy byskryf.

Kom ek deel wat Jan gesê het oor die shallot. Dalk sal jy verstaan waarom die trane vryelik daarna gevloei het, net soos wanneer jy ‘n ui oopkap.

Uie, of in hierdie geval, shalotte, is byna nooit die hoofbestanddeel van die gereg nie. Sy is altyd ‘n bysaak, wat net gebruik word vir haar smaak in sekere geregte en gewoonlik word sy glad nie in oormaat bedien nie. En ja, dit is ‘n sy. Dis iets wat ek geleer het by die Franse skool.

In ons tradisionele kookkuns, is die shallot omtrent altyd net ‘n bysaak. Sy’s nooit rerig The Leading Lady nie. Gewoonlik moet sy gelukkig wees met die rol van supporting actress of die stiefsussie in die hoek by die sokkie. Sy’s nooit die Belle of the ball nie.

Maar net soos die tulp, wat nogals weerloos lyk met die eerste oogopslag, besit die shallot ook baie versteekte kwaliteite onder al haar lae.

Elke ervaring van die lewe is soos nog ‘n skil van die shallot wat moet afkom. As jy ‘n shallot kook of braai, of hoe ookal jy dit gaarmaak, dan word dit sag aan die binnekant en die lekkerste soet geur ontsnap. Die reuk hang sommer so in die kombuis. Geure wat jy in jou wildste drome nie kan dink, kom van so ‘n eenvoudige bolplant nie. Hoe langer dit kook, hoe soeter word die sous, en soos meeste dinge in die wêreld het dit net ‘n bietjie tyd nodig, dan raak dit volmaak en sag.

Soos ‘n blom wat oopgaan, met haar skoonheid wat in blare skuil, so word die lelike eendjie, of uitjie, in die geval, uiteindelik ‘n swaan.

En vandag maak ek van haar My leading lady.

2 thoughts on “Die lelike uitjie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s