Grendeltyd met vier hartkamers

Om die horison plat te stap help vir ‘n sawwe binneste. Maar ons horisonne is nou ingeZoom en ons moet ‘n nuwe normaal bedink. Die ou papiertjie is opgeskeer.

‘n Student het die ander dag ‘n R5 000-boete gekry toe hy sy voortuin in die township omdolwe. ‘n Gesin wat die naweek saam met kuiermense in Westdene gebraai het is met pepersproei uit mekaar geruk. Dit is Week 1 teenoor Week 5, en dinge gaan nie gou verander nie.

Die bure baklei terwyl ek in die oprit probeer om die 5 km-merk haal. Heen en weer, heen en weer klink my voeteval, nes hul dowwe sinne.

Die nood buite die mure dreig om oor te kook. “Bloemfontein Mammas” het oornag verander in ‘n noodgroep. Ek sê vir Michelle sy moet unfollow, dit jaag haar senuwees te veel op. Ons drink baie koffie om kop te hou. Naweke vaar ons in hul goeie wyn want die boks is lank reeds leeg. Nie dat ons juis drinkers is is nie, maar ek gaan nie ontken dat ek Rapport se “Hoe om pynappelbier te brou” al so drie keer gekyk nie.

Nou die oggend word ek wakker met ‘n swaar leemte. “Vreugde-vlakke is gevaarlik laag,” tik ek vir ‘n vriend. Soos ‘n zombie stap ek kombuis toe. Die piesangbrood is op. Waar sal my hulp vandaan kom? Ek stap toe maar met my stywe lyf en sny koek op die plaveisel.

Iemand kom haal ‘n pakkie. Met skrefiesoë teen die son probeer ek small talk voer. Nog nooit het die lig buite my so gepla nie. Dalk was ek te lank binne. Hy kyk my aan en vra vir wat het ek so ‘n onsekere kyk. Ek match net die onsekere tyd waarin ons is, wou ek sê.

Wonder bo wonder kom die goeie stories steeds ingestroom en kry ons dit reg om daagliks ‘n leesbare koerant te bou. Malissa Louw, ‘n student wat in die township grootgeword het, voel veilig in haar piepklein koshuiskamer. Sy skilder die mooiste prente. Sy breek los uit haar grendels en gee die lesers hoop.

Liza, die vrou oor wie Koos Kombuis in die tagtigs gesing het, speel saans vir haar bure die volkslied. Ek sukkel om haar op te spoor. Ek verloor moed, raak ongeduldig. En kry haar, ure later. Sagmoedige vrou wat vertel van haar pa wat op 87 die woorde van Nkosi Sikilel iAfika leer om in sy basstem saam te sing.

Met oorfone aan luister ek na ‘n ander klavierspeler. Ek bid. Kyk om my vir goed om dankie te sê. Daar is te veel, en dit maak my hart nog swaarder. Want hier sit ek, in my huis (wel, die Bornmans s’n) en het oorgenoeg.

Ek lees die boek Hinds’ Feet on High Places van ‘n bokkie genaamd Much-Afraid. Dis ‘n ongelooflike mooi analogie, maar die deel wat nou by my opkom is die dolleë inham by ‘n strand. Ek verbeel my dis ‘n tipe grot. Die Engels sê “cove”. In elk geval, Much Afraid voel hartseer vir die leemte omdat sy iets soortgelyk in haar ronddra. En kort-kort kom die see met sy skuimwater en vul elke hoekie. Dis ‘n liefdesspel wat aanhou omhels, aanhou nadertrek.

“After climbing the cliff she found herself looking down into a lonely little cove completely enclosed on three sides by the cliffs and with nothing in it but driftwood and stranded seaweed. The chief impression it made upon her was its emptiness. It seemed to lie there like an empty heart, watching and longing for the far-off tide which had receded to such a distance that it could never again return.

“When, however, drawn by an urge to revisit the lonely cove, Much-Afraid went back to the same spot some hours later, all was changed. The waves were now rushing forward with the strength of a high tide urging them onward. Looking over the edge of the cliff, she saw that the cove which had been so empty was now filled to the brim. Great waves, roaring and laughing together, were pouting themselves through the narrow inlet and were leaping against the sides, irresistibly taking posession of every empty niche and crevice.”

Ek weet nie hoe dit gebeur nie, maar sonder dat ek dit agterkom, beland die dansende golwe weer in my binnekamers. Dit is die gety van Liefde. Joy comes from the inside, and happiness from the outside. Laasgenoemde hou nooit lank nie. En met eersgenoemde kry jy ‘n sarsie vrede by.

Dreunings donderweer flits vanaand bo ons huis. Nadat die boomtoppe heel somer hande gevat het, neem die gawe reuse nou afskeid van mekaar soos wat herfs plek maak vir winter. Ek lê op die gras. Luister na die enkelle wolkkolom wat keel skoonmaak. Binne speel ‘n klavier op ‘n radio.

Die wind gooi blaartrane rond, sê vriend Stefan Burger. Ja, dis herfs, my gunstelingtyd, maar ons sien nie veel van die goud en geelgom wat op die strate weerspieël nie. Ons bly binne vir lockdown terwyl die blare oorgee en val. Inkubasie om heel aan die ander kant uit te kom. Nes die seisoen en nes die Here soms maak, verberg ons ons gesigte. Want die stilte is by tye swanger met antwoorde wat die leë hoekies weer volmaak.

As ‘n digter wat reeds van verlede jaar Oktober in ‘n inperking weens haar borskanker kan sê dis ‘n seën, dan moet dit waar wees. My onderhoud met Gisela Ullyatt is een van daai opdragte waar die goud in die kennismaking en briewe lê. Die eindresultaat is eintlik net ‘n nagedagte, wat jy hoop die leser hoor.

“Dink aan Breyten se ‘ek sal sterf en na my vader gaan,” skryf Gisela. “Wellington toe met lang bene… Die dood is baie finaal vir dié wat moet agterbly, maar net die begin van ‘n ander reis vir die persoon wat aanbeweeg. En ek sê dit nie ligtelik nie.”


Kan ‘n mens in ‘n tyd van pyn en chemo skryf, vra ek haar. “Ek skryf sulke flardes van gedigte neer in my dagboek of enige stukkie papier wat ek in die hande kan kry. Of wanneer ‘n woord in my kop dool.”

“Soms is dit te erg om dit neer te skryf en ‘n mens wil vergeet. Later, wanneer jy deur die ergste post-traumatiese stres is, kom dit terug, meer gefilter. Dis dan wanneer ek daaroor kan skryf, met selferbarming, maar sonder te erge emosie wat in die pad staan van ‘n goeie skrywe of gedig. Jy weet mos, emosionaliteit of soetlikheid maak die integriteit van skryf dood.”

Ek wil skryf sonder soetlikheid. Ek wil my leser die bietjie brood gee wat ek het om ‘n honger kol vol te maak. Dalk is ek eendag die leser wat wil aansit in die ete van my verlede en die groei uit die woestyntyd geniet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s