Benjamin (2 jaar, 1 maand)

Op nog ‘n paar tekkies met nate wat nie meer kan saamspeel nie. Op moonshakes (jou woord vir ‘n pienk melkskommel), skoppelmaai, spanspek en die smaak van somer. 

Wannneer ookal ons albei iets eet of drink, sal jy met oorgawe jou armpie na bo lig en met groot vreugde sê “tjeers!”. Appel teen appel, twee stukkies brood, ‘n leë nagmaalglasie. . . alles moet liggies bots. Om tog soos ‘n kind te wees! Om te lag en te huil en te tjeers met oorgawe, maak nie saak wie kyk of wat vir jou uitgedeel word nie. En as jy per ongeluk iemand sien huil, sal dit jou so diep raak dat jy tot met slapenstyd sal sê “Mamma huiiiil, ouma huiiiil, klippe huiiiiiil”.

Ek is spyt ek het my ingehou by die kerk Sondag. 

Niemand het die gesin geken wat by ons deure ingestap het nie. Alle oë was op die huilende pa, kop en skouers bo die res van die gemeente. Met ‘n groot, reghoekige pleister op elke kuit, het hy, hand op die hart en effens geboë, saam met sy mense sitplek gekry. Die dokters het nie meer antwoorde nie, het sy vrou later gesê.

Die seer van stilte het soos ‘n kombers aan hom gehang. Nie net het die diagnoses opgedroog nie. Ook hy is nou onverklaarbaar stom.

Hy het sy oë toegeknyp in pyn toe ons sing en hy sonder sinne na Bo soebat. Sy ongemak was geteken op elkeen om hom se gesig en die pyn het uitegekring. Ja, iewers, hier by die derde lied, het sy seer die gemeente s’n geword. Vir ‘n oomblik was ons een groot gebed.

Net toe die golf my kant toe rippel en my skanse begin verbrokkel, kom die gees van ordentlikheid. Ek grou in my handsak en plak ‘n simpel glimlag op my bakkies, betyds vir teetyd. Wat ‘n fool. Ek moes eintlik saam huil. Ek moes breek en bid, laat die lou tee wag, want hierdie lewe moet gevoel word. Nou is dit asof ek iets by myself gesteel het.

Henri Nouwen praat van ween en dans vir ‘n dieper vreugde. “We tend to stay away from mourning and dancing. Too afraid to cry, too shy to dance. .  . we become narrow-minded complainers, avoiding pain and also true human joy. While we live in a world subject to the evil one, we belong to God. Let us mourn, and let us dance.”

Dis goed om te huil met hoop, sodat die vlak goeters omgedolwe kan word.

Op ‘n dag wat liefde gevier word, kan ek nie anders as om te dink aan die wit donsveertjie wat uit die niet op die trampolien beland het nie. Jy het dadelik ophou spring, dit styf teen jou bors gedruk en gesê: “Veertjie, lief vi jou.” 

Asof niemand kyk nie. Asof dit ‘n liefdesbriefie net vir jou is.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s