Benjamin (2 jaar!)

Liefste seuntjie. Vandag is jy twee! 

Jou woorde vat nou al hoe meer hande, vladder uit jou keeltjie om sinne te laat vlieg, al is dit soms met gevrommelde vlerke. Ook jou eie naam kan jy al sê, wel amper…

“Bettamin”.

Mamma en Pappa vertel nou die dag, toe jy al weer jou kos op die vloer neersmyt, en hulle op die punt is om te raas, sê jy so half gelate: “Aaaai Bettamin”.

Dit is hoe besonders jou sin vir humor al reeds op twee is!

En “Tan Luckiee” is musiek vir my ore! Wat my herinner aan ons klavierlesse. Selfs ek is nog by babataal wanneer dit by die ontsyfering van note kom, maar ek het ‘n droom dat ek jou eendag gaan leer klavier speel.

Tans tik ons sommer so rond op die klawers, want jy is ‘n bietjie besitlik oor die instrument. Dis is ook te verstane, want volgens Mamma kan nét Tan Lucky mos die houtflap lig! So jy wag al die tyd vir my om te kom sodat ons die musiekboks kan oopmaak. En intussen doen jy ‘n dansie as die geleentheid hom voordoen…

Jy weet nou al om een vingertjie per klawer te druk, al moet ek jou gereeld herinner. As jy wil hê ek moet jou ruimte gee, waai jy jou handjie stadig heen en weer en sê so ewe beleefd: “babaaai”.

Nou die aand het ek dit as my “queue” gesien en laat spaander, huis toe. Mamma vertel jy het ná ‘n paar wysies met ‘n vraagteken op jou voorkoppie die kombuis binnegestap en gesê “Tan Luckiee?”, waarop Mamma geantwoord het ek het gery. Weer ‘n hartseer “Aaaai Bettamin.”

Saterdagoggend, toe die huis nog slaap en jy slaggereed agter die klawers inskuif, het jy voor jou uitgestaar en so ‘n diep sug gegee. En toe klap jy jou handjies, so bo jou kop. Asof jy die musiek uitnooi om saam te kom speel.

Soms word hierdie nuwe woordjies morsekodes wat onmiddellike reaksie vereis. “Dadda!” (fopspeen) “Haas!” “Bers!”… die heilige drie-eenheid, volgens Pappa.

En soms skree jy “handjie!” of “sappies”! Ons moet maar dié bevele met erns en presisie gehoorsaam, anders verander jy blitsig in ‘n Transformer, soos Oom Bossie sê.  

Die feit bly staan, niemand durf ‘n drukkie te geniet sonder jou deelname nie.

My binneste het ‘n dwarsklap gekry toe ek lees van ouers wat ‘n baba dogtertjie verloor het. Klein Juané Greeff was net so oud soos jy. Op die nuusberig se foto glimlag  sy sag tussen die boomlusernsteggies. Wakker, wyse ogies, net soos joune.

Wat my binneste omtrent in ‘n knoop gehad het ná haar tragiese dood, is hoe ‘n familielid haar beskryf. “Juané was besonders en uniek. Sy het haar eie persoonlikheid, identiteit en karakter gehad. Sy het met al die diertjies op die plaas gespeel en hulle nagemaak. Sy het nie geloop nie, sy het gehuppel.”

Jy huppel dalk nie, maar jy hop en galop, soos iets tussen ‘n bokkie en ‘n haas. Ook jy het daai karakter wat buite die lyne van jou DNA waggel. ‘n Uniekheid wat ek nog nêrens teegekom het nie. Vandag kan jy twee kersies op ‘n cupcake uitblaas, iets wat Juané nooit sal kan doen nie.

Ai Benjamin, ons het jou so baie lief. Dis dalk ‘n selfsugtige gebed, maar mag dit nooit ooit jy wees nie. Wat kan vir daardie ouers gedoen word? Juané was hul enigste kind. Net God kan hulle troos, maar ek is seker Hy huil saam.

Dalk sou julle maatjies word eendag. Dalk sou jy ook haar handjie wou vat en tussen die landerye stap.

Ek hoop hulle en die plaaswerker vind genesing in die feit dat sy nou by Vader is. Ons durf nie vergeet van hierdie ouers nie. By die koerant moet ons dikwels sulke swaar nuus weergee, maar vir ons is dit nie net nog ‘n storie nie, al wou ons anderpad kyk. Die landerye, die dorp, die gemeente, die plaaswerkers, die redaksiespan, die subs, die aandspan, die leser. . . ja, die hemel en die aarde het daai dag swaar gekry. En wie weet hoe diep die seer op daai plaas lê vanaand.

Dankie Vader, dat ons Benjamin twee jaar oud kan word vandag. Dit is ‘n voorreg vir elkeen van ons. Stuur engele om sy en elke klein lyfie se pofhandjie vas te hou, om hulle te beskerm en op te tel, waar hulle ook al loop, kruip, rol, huppel en galop. 

Nogmaals geluk liewe Bettamin. Lief jou see toe en terug x

One thought on “Benjamin (2 jaar!)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s