Yua-lyfie (4 maande!)

“It’s amazing, the way we love people from the day we are born, the way we hold on, as if we are holding on to life itself.”

Christy Lefteri, The Beekeeper of Aleppo

Is ‘n vis regtig ‘n vis in jou kop of net ‘n bewegende ding met skubbe? Want jy het hulle amper uit die glaskastele bekyk by die akwarium (jy kom immers van die waters af en was self nie te lank terug nie ‘n soort vissie. . .). 

Monochromatiese vinne met fêncy name, reuse seesterre, paddas wat die tango in tenke bedans. Vreemde skepsels met oeroue gesigte. Hoeveel van die biljoene stukkies data jy werklik verteer, weet ons nie, maar om dit deur jou baba-oë te beleef, omskep die akwarium in ‘n lushof vir dromers.

Die mooiste ding van jou is dat jy niks bevraagteken nie, jy kyk net en neem in, sonder oordeel oor hoe dinge eintlik moet wees. Ek weet jy is ‘n baba, maar ons is oortuig jou vlak van nuuskierigheid en belangstelling in jou radius en die karakters daarbinne is bogemiddeld.

Op vier maande het ons gedink jy gaan maar slaap en doen wat papperige babas doen met ons uitstappie in die Kaap. Dis Benjamin wat veronderstel was om die Two Oceans baas te raak.

Maar o wee, wat hóm toe die heel meeste fassineer, is die man in ‘n Nemo-pak vol wolletjies! Toe ons by die pikkewyne kom, toe wals hy daar in met ‘n gemoedelike wuif, asof dit welbekende maatjies is. Daai boeta van jou!

Jy sien met silwer skoon lense, sonder ‘n verwysingsraamwerk en ou impulse. Toegegee, om deur jou eie raamwerk van jou verlede en ervarings te kyk, is ‘n oorlewingsmeganisme vir ‘n grootmens. Ons kleur halwe prentjies in, want dit is hoe die brein werk.

Maar dié jaar wil ek anders begin sien. Dalk is dit ‘n wens vir 2020. Dalk kan ek bid vir ‘n nuwe stel lense. Skoongewas van hoe ék dink dinge behoort te wees. Sonder ‘n aks oordeel. Of dit moontlik is, weet ek nie, maar dis iets om na te streef. En jy, liefste babalyf, herinner my daagliks daaraan.

Om mense te sien soos God hulle sien. Sal my hart al die liefde en teerheid waarmee Hy kyk kan hanteer? Ek twyfel. My bene sal ingee, my kakebeen oopval. Nee, my binneste sal dit nie hou nie. Dit sal, soos die jongklomp sê, my brein breek.

Gepraat van sig… My vakansieboek, The beekeeper of Aleppo. Dit gaan oor ‘n Siriese vlugteling-paartjie, Nuri en Afra Ibrahim. Hulle het hul seuntjie verloor in die oorlog. Die trauma van verlies was so erg op Afra, dat sy haar sig verloor het. Totaal en al blind geword van hartseer (ek het geGoogle, dit is glo moontlik).

Hul ontsnapping uit Aleppo na Istanbul, na Griekeland en uiteindelik Engeland, klink soos ‘n lewendige nagmerrie. Nie dat dit nét swaar is nie. Maar glo my as ek sê, dis só goed geskryf, dit voel of iemand jou skouers met sandelhoutolie invryf terwyl jy die boek lees.

Ryk aan beskrywings van Nuri se byehuise, van die blommevelde van Aleppo, van die lewe voor die dood. Van next level liefde tussen ‘n man en ‘n vrou. Afra, ‘n kunstenaar, teken later in haar gebrokenheid met ‘n stel kruite en papier. Nuri se belewenis daarvan ruk omtrent jou binneste. Dit is ‘n besonderse boek wat dit onmoontlik maak om ‘n blinde oog te gooi oor vlugtelinge, en eintlik enige sukkelaar, se swaarkry, verlorenheid en verlies.

Die boek los my nie. Maar op ‘n manier gee dit my moed vir die nuwe dekade. Want net soos Nuri en Afra geen idee het wat Engeland inhou nie, het ons geen idee wat hierdie jaar in sy gebalde vuisie bêre nie. Met hoop en verwondering in ons oë, sien ek kans.

Hier is ‘n paar aanhalings uit die boek. . .

“She looked into my eyes, as if she could see me. In that moment I could see her too, the woman inside, the woman I’d lost. She was there with me, her soul open and present and clear as light. For those few seconds I was no longer afraid of the journey, of the road ahead.”

Christy Lefteri

“What he is really saying is this: this is how the story must end; our hearts can bear no more loss.”

Christy Lefteri

“It takes bravery to cry out, to release what is in your heart.”

Christy Lefteri

“She cried like a child, laughed like bells ringing, and her smile was the most beautiful I’ve ever seen. She loved, she hated, and she inhaled the world like it was a rose. All this was why I loved her more than life.”

Christy Lefteri

2 thoughts on “Yua-lyfie (4 maande!)

  1. Jy skryf ongelooflik!!!!! Wat n voorreg!!! Gaan net so aan en hou ons op hoogte van die pragkinders se vordering!!! Ek het Yua en Benjamin al gesien in die Volksblad!!! Hulle is so gelukkig om jou as Tannie te hé!!!

    Geniet hulle en n mooi 2020 vir jou! Dit voel net vir my die lekker jaartal, wat so lekker sé, gaan goed uitdraai en ek dalk sommer 20 kgs afskud ook daarby!!! Ek word ouma in mei vir die eerste keer van n seuntjie! So wow!!!! Iets om na uit te sien!

    Groete
    Annélle Tessendorf
    Xx

    • Hallo Annélle! Baie dankie, jy weet nie hoe baie jou boodskap vir my beteken nie. Voel bevoorreg dat jy tyd maak om die brief te lees. Waardeer dit. Ja, ek hou ook van hoe 2020 klink. Ek wil dapper wees en elke dag hier skryf.
      Mag jou 2020 soveel seën inhou! Kan net dink hoe opgewonde jy is oor die klein seuntjie wat op pad is. Jy gaan dit só geniet!

      Liefdegroete
      Cheréne xxx

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s