Benjamin (22 maande)

Dit gaan so dol, liefste seuntjie, ek haal skaars asem. Dit is sleg. Ek kom nie by mense uit nie. Die ergste is, die mense raak gewoond daaraan dat ek nie meer by hulle uitkom nie. Dit moenie so wees nie. En die dae tik verby en vee soos sandpapier oor my hart.

Maar nou sit ek in my bed en ek glimlag, want danksy jou is vandag tog spesiaal. 22 maande.

Die sekondewyser spring van die een baken na die ander een. Ek kan nou iets simpels sê soos genade sal ons deurdra. Maar die waarheid is, daar is altyd tyd.

Daar is tyd om jou arms uit te steek (hoe lank moet ‘n drukkie duur voordat die hart dit kan voel?), daar is tyd om ‘n gedig te lees, daar is tyd om ‘n voicenote vir ‘n vriendin te stuur. Daar is tyd vir koffie en klets, daar is tyd om ‘n haiku te beraam.

Tyd is soos pattie, jy kan dit nie in vloeistof verander nie, maar jy kan dit tog ‘n bietjie buig in ‘n vorm wat pas.

As jy my vir lank nie gesien het nie en ek kom by julle aan, verberg jy eers jou gesiggie of kruip agter die gordyn weg. Ek en my mense doen dit ook met mekaar as ons lank nie gesien het nie, net op ‘n ander manier. Dan vat dit ‘n bietjie sit agter die “gordyn” van small talk en gesels en uitvra totdat die sluiers lig. “Hoe gaan dit regtig, lief?” is ‘n kragtige sin wat staalmure kan laat tuimel.

Ouma wys vanaand vir my foto’s van jul dag saam. Jy hou ‘n bitter klein katjie vas wat se oë nog so toekleef. Dit was dapper van Ma, dink ek, maar sê niks. Die eerste foto’s is dof, haar skerm was vuil. Sy moes hom ‘n vee met die mou gee, want nou blink jou ogies soos jy opkyk na haar en vra: kan ek regtig dié sagte dingetjie maar vashou?

Jou pofhandjies vou los om die diertjie. Jou beentjies sommer wyd oop waar jy staan om seker te maak jy staan sekuur om hierdie oomblik te bewaar.

Jy en Yua het die vermoë om die kors om die hart ‘n bietjie te brei. Om jou lyfie op my heup rond te dra, en toe te laat dat jy my ‘n bietjie rondwys in jou wêreld, is net die salwing teen ‘n jaagmal wêreld..

Hou jou hart met altwee handjies vas, maar moenie dit heeltemal wegsteek nie.

Iemand het gesê dit is die sagste plek op aarde.

One thought on “Benjamin (22 maande)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s