Ingeval en eendag

Tien weke. Nou dat die donderweer se roggel die voëltjies se getjirp kort-kort onderbreek, skryf ek vir jou.

Ook ék voel vandag ‘n bietjie klein.

Omdat dit nie ‘n gegewe is dat ons almal hier gaan wees teen die tyd wat jy my inkwoorde gaan drink nie, wil ek jou graag ‘n bietjie vertel van jou mense.

Mamma

Sy sê vir my jou eerste glimlag het nou die dag gebeur, en ek wonder. Moet ‘n wind wees. Maar jou oë het so saam geglimag, sê sy, en toe vermoed ek jy’s ‘n uitsondering op die reël wat sê dat pap babas nie kan glimlag nie. Want ook Mamma se ogies trek so sag saam as sy lag. 

Met haar reuk, boesem en stem is jy een, maar het jy geweet sy is ‘n beplanner in murg en been? As ek by haar kuier en my binnewêreld onnet voel, wil sy dadelik inspring en help opruim. Ons kry dit nie altyd reg nie, en dis allermins haar jop, maar ek kan haar met vrede rondwys in my hart, al trap ons nou en dan op ‘n hoop onpaar sokkies.

Sy sal die ketel aansit vir tee, jou fyne lyfie vir my aangee, en haar kombuis tot orde roep. Nie een keer omkyk om seker te maak ek jaag nie aan nie.

Sy sal altyd uitvra oor ‘n mens se kalender, asof jou dae van uiterste belang is. Ja, sy stel intens belang, maar lysies en reëlings is haar veiligheidsnette.

Ons spot haar oor sy haar neus so baie blaas. Sy dra los, blommerokke. Dit sit net soos haar greep op aardse besittings. Ek kan énige tyd iets by haar leen, selfs ‘n Poetry-rok wat nog ‘n “tag” aanhet!

Tog pas sy haar goed soos goud op. Fyn breekware word net soos my brose wense veilig weggebêre in haar soliede hout trousseaukis.

Geskenke wat sy op hoërskool gekry het; erfgoed; glasgoed lyk nog splinternuut. Maar laai jy summier alles in jou kattebak, sou sy sweerlik orraait daarmee wees.

Selfs Benjamin se giggelgeel gesigverf op jul Hertex-mat skeel haar min. Dalk is dit ‘n permanente sonkolletjie wat die besoeker welkom heet.

Benjamin

Omdat jy soms vir hom bitter kwaad gaan raak, wil ek graag hê jy moet teug aan hierdie waarhede oor jou ouboet.

Hy wil jou deesdae só graag net ‘n bietjie vashou en koester. Ons moet net keer! Die ander dag het hy so oor jou beentjies gestreel. Eintlik wil hy, net soos met die Miela en Malaika, jou oorrompel met liefde.

Ek kan nie wag dat julle in die modder speel en saam vir daai weird katte kan lag nie.

Daar is ‘n fopspeen vir jou aan jou karstoel met ‘n leerriempie vasgemaak. Soms staan hy en suig daaraan, asof hy stilhou vir brandstof. Hy is waarlik enig in sy soort!

Sy handjies word by die dag groter en ek weet hy sal jou daarmee beskerm. Soms knyp en kielie, maar altyd beskerm.

Om daai mannetjie as ‘n Ouboet te hê gaan jou eerste, groot avontuur wees.

Pappa

Omdat hy teen die tyd wat jy self dié brief kan opsoek, tien teen een nog steeds jou groot held gaan wees, wil ek jou iets sê oor Pappa.

Nêrens is daar vir jou so ‘n lekker lêplek soos die mik van sy harige arm nie. Dit is jou beste teddiebeer.

Jy is al goed vertroud met die vibrasies van sy sinne en sy rustige lag, maar dalk besef jy nog nie; hy is Mamma se beskermengel.

Wanneer hy weg is en ek tydelik by julle intrek, gooi sy afwesigheid ‘n skadukol oor die huis. Hoe hy haar seën, koester en alles vir haar doen al is sy slaapkwota hóé laag, gee my wraggies hoop vir die liefde.

Ouma 1

Omdat sy ons kosbare mamma is, wil ek jou iets sê van jou ouma. Haar groot teenwoordigheid sal nooit taan nie, maar sy is aan die broosraak. Ons ken haar as ‘n bol energie wie se hande vir ongeveer niks verkeerd staan nie, maar deesdae wil ons haar net toevou en bewaar.

Haar sin vir humor en lewenslus is lowergroen. En, sy sal haar hele huis omkeer vir ander se gemak. Benjamin loop reeds soos die nekkie van die plekkie rond en help haar om die budgies met spinasieblare uit haar tuin te voer.

Sy maak ons soms moedeloos, soos wanneer sy bloot versuim om die ketel se tuit toe te klap as sy die gas aanskakel. Kloppers moes die vorige een al vervang het. . . Le Creuset kan ook uitkook.

Haar huis sal altyd oop vir ons almal wees. Moet net nie haar vetplantjies uitruk of haar glas rooiwyn omstamp nie!

Jou eerste treë in haar feetjietuin met RSG alewig êrens in die agtergrond sal diep spore in jou menswees trap.

Mag jy haar en haar wonderwêreld nog jare lank geniet.

Ouma 2

Omdat haar hare wit en haar hart gróót en rafynsag is, wil ek jou ietsie sê van jou ander ouma. Sy het reeds ‘n hele kroos kleinkinders, maar kan nie genoeg van julle twee Bornmans kry nie.

Ook haar huis is altyd oop vir al wat ‘n kind en kleinkind is. Sy het lang trane gehuil by Shani se dans-optrede, en ek weet jy trippel reeds rond in die hiërogliewe van haar hemelbreë oumahart.

Daar is baie mense wat reeds deel is van jou lewe, maar hierdie is jou nabymense.

Ek wens daar was ook ‘n vol stel oupas om oor te skryf, maar soos jy kan agterkom, skiet jou familieboom nie tekort aan die liefde nie.

2 thoughts on “Ingeval en eendag

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s