Dominee Wollie se heiligdom

Vandag loer ek in by dokter, of dominee Wollie Grobler. In Bloemfontein is hy sommer net Wollie, die Bybelman van die Klipkerk met die kop vol krulle. Wollie. . . Soms maak hy mense bang, woedend, ander kere laat hy hulle kopkrap, maar die meeste kere sag glimlag. ‘n Bietjie soos Jesus.

Wollie het my pa begrawe. Op ‘n weird Vrydagoggend met Tracy Chapman se “Revolution” wat deur die kerk dawer. Ons wat in die voorportaal rondtrap en uiteindelik die sagte, rooi gang binnetoe aandurf. Ek onthou die Basotho’s, sy mense in Lesotho, se liedere. En ek onthou my broer se pols en sy horlosie, wat nes my pa s’n, hoog teen die hand vasklou.

Ek het voor Wollie grootgeword.

Almal is lief vir Wollie, selfs dié wat rooi gesien het toe hy Sondagaande Linkin Park van die preekstoel speel. As my pa saamgekom het, al was dit net een keer, sou hy mal wees oor hom, sy preke, en veral sy musiek.

Wollie het gesê ons kan speel net wat ons wil in sy kerk as ons my pa groet.

In elk geval, ek was vandag by die konsistorie in Waverley om ‘n dokument te kry met geskiedenis en foto’s van die kerk soos hy doeriejare gelyk het. Die nuusstorie is dat die Klipkerk die naweek 100 jaar oud word.

Maar Wollie is ‘n sit-en-geselsman en sy stories is áltyd weird, snaaks en aangrypend, en daarom het WeTransfer nie vir ons gewerk nie.

Sy studeerkamer is vol kleinode, briewe, geskenke, Stickees van ouds, en reuse dennebolle wat hul arms oopgooi van swaardra.

Hier is ‘n spiraal wat ‘n ad hoc-preek word. . . Magnetiese velde kry lewe in sy hande. “Dit wys hoe God ons omvou en beskerm. Maar ons moenie net opstaan nie, ons moet aan die move kom. Ons moet bewéég.”

Elke ding vertel ‘n storie, nes Wollie kan. Houtkissies, gadgets. ‘n Regte fakkel wat ‘n kerk 35 jaar gelede vir hom gegee het. Daar is mense wat moan dat dit te besig hier is, sê hy. Ek dink weer dis wonderlik.

Hy blaas ‘n ramshoring dat my oordromme antwoord gee. Ek lag terwyl my oë deur die see van boekomslagte swem.

In die hoek is ‘n plant gedrapeer. Meer as dertig lank reik sy haar takke na die boeke oorkant die vertrek terwyl mense onder haar oksels bieg, raad bedel en lag.

Ek het al gehoor jou eensaamste mens in die kerk is die predikant of pastoor. As dit waar is, bid ek vanaand vir ‘n heiligdom soos Wollie s’n vir elke eensame siel wat iemand vir almal moet wees.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s