Ons asempie lente

(Vir Yua. 1 maand oud; 3,25 kg swaar)

“The world needs music, also the painting, even more so the feeling of beginning.”

Van kleintyd het ek ‘n ding oor ‘n nuwe begin. “Skole heropen” was altyd eerste in my huiswerkboek by elke nuwe kwartaal met ‘n skewe kinderhandskrif aangeteken (nerd alert!).

My skoolrok, spierwit sokkies, gitswart skoene en strepiespantie was al minstens ‘n week voor die tyd netjies uitgepak.

Die punte in my rapport (vou hulle die vreemde papiertjie nog steeds in twee plekke?) was nooit so blink soos my skoene nie. Ek het net té hard probeer. Daar was ‘n bang wat my brein geblok het. Maar dankie tog dit is nie meer deel van my nie.

Ek dwaal af. Jy is nie my begin nie, jy is Mamma en Pappa s’n. Maar ek is vir die tweede keer peetmamma en op ‘n manier is dit vir my ook die begin van iets. Jy het boonop ons almal se lente aangekondig, die mooiste en dapperste een nog.

Stropie soet aanskou jy ons dowwe gesigte. Hoe skerp jy al kan sien en kan hoor, weet ons nie. Jy lyk wel verlief as jy so na Mamma staar. Ook sy is op ‘n wolkie. Vir nou is haar nabyheid en borsmelk jou lewensaar.

Jou naam, uitgespreek “You” en “ah” is betekenisryk. Dit is ‘n soort herdenking van Oupa Johann, my liefste pa, wat in 2011 oorlede is. Hoe sou hy vir jou en Benjamin nie geniet het nie!

In Japannees kom dit van 結 (yu) wat beteken “bind” en 愛 (a) wat beteken “liefde, toenadering”. Hoe mooi! Jy is die liefde wat ons saambind. Dit beteken ook “lente”; arriveer jy ook nog op 1 September!

Ek kan nie wag om jou lae van menswees te sien vorm aanneem nie. Vir nou geniet ons net ‘n fyne, fyne bondeltjie. Dankie tog vir ouma se aanslag met die bad van ‘n baba! Wat ‘n rooibostee-deurdrenkte storie.

Ek kan dit nie verduidelik nie, maar om jou vas te hou laat my ‘n bietjie heiliger voel. Soos om ‘n duur rok te dra met olyfroom ingevryf en skoon hare opgevat. Dan wil ek my ken ‘n paar akse lig. Ja-nee, met jou in my arms wil ek sommer ‘n beter liggaamshouding inneem. Asof ek ‘n kroon dra. 

Mamma het natuurlik die mooiste klerekas vir jou opgebou, maar helaas kan jy nog niks dra nie.

Alles was maande vooraf in plek vir jou koms. Rye en rye skoene gooi dun skaduwees in jou kas. Hulle wag geduldig sodat jy hulle kan volstaan. Haarrekkies opmekaar gestapel om jou lokke netjies saam te vat. Die hele Bornman-woning het asem opgehou, en nou is jy hier.

Dankie vir ‘n maand van vashou, stiltes, verwondering, en jou babareuk. Dis die reuk van ‘n nuwe,

wonderlike,

vreeslose begin.

One thought on “Ons asempie lente

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s