Ek het gegaan as buitestander wat skryf; as vlugteling in die kleine. Net om ingetrek te word in die maalkolk van samesyn, aanvaarding en liefde.
Istanbul

Istanbul se arms is wawyd oop. Die buurte is ‘n kleur kaleidoskoop met lang gras tussen klimrame. Ons het vir Agmid gekry, wat as skakelpersoon tussen die sendelinge van Kairos Gemeente in Bloemfontein en die Iranse vlugtelinge werk.
Die plan was om die aand ‘n Engelse klas, wat Beyers hier vir ‘n paar weke aanbied, by te woon. Maar toe het die planne verander en het ons die stad verken.
Istanbul is ‘n wêreldstad en dit vat nie hoër graad Wiskunde om oor die weg te kom nie. Turks voel soos Grieks, maar die prentjies wat voor jou afspeel maak tog sin. Prentjies en patrone is die taal van die Turke, want hulle is groot op detail.
Ek het twee groot dinge nie geweet nie voor ek saam met Suretha, Beyers, Jakobus en Lientjie heerheen gekom het nie. Dat Istanbul nie die hoofstad van Turkeye is nie, en dat dié magiese stad oor twee kontinente strek.