Klavierles

Klavierlesse: R380 per kwartaal, was die advertensie wat haar gelok het. Nou is dit net sy en die halfblinde man in die musieklokaal. Hy hou sy Nokia téén sy oë. Dan lees ‘n blikstem name vir hom. “Abrie, Aletta, Brian, Be, Cl,” Al hoe vinniger. Tot hy by Erika Volsteedt uitkom. “Jou volgende student is hier” sê hy en druk die foon in sy hempsak voor hy die vertrek verlaat met ‘n “vaarwel”. Twee statige klaviere nooi haar om te kom sit. Maar sy vee eerder haar sweterige handpalms teen die kante van haar jeans af.

Die blondekopvrou kom ingestap. Haar donserige kapsel herinner aan ‘n kuiken, maar ‘n snyerspadjie balanseer die waansinnigheid uit. ‘n Skerp neus verdeel haar bril netjies in twee. Vandag tjop sy af, dink die vrou. Sy is 35, en wil ‘n nuwe taal – musiek – leer. Dis mos ‘n goeie ding, probeer sy haarself oortuig. Dan teken sy haar naam op ‘n vorm en gaan sit gehoorsaam agter die verste klavier.

Klavierspeel het háár uitgekies. Haar swaer het dit geërf, maar hulle het nie plek gehad nie. Nou staan die madame in haar twee-vertrek pophuis. Sy wou die instrument laat stem. Want alle vroue moet ‘n stem hê, het sy vir die eintste blinde man gesê toe hy die reuse instrument in haar slaapkamer haar oopmaak en goeters begin draai wat soos skroewe lyk. “Dis dan ‘n Carl Ecke,” het hy droogweg gesê en sy kop laat sak om die instrument se klaagliedere te hoor. Sy het dadelik van hom gehou.

Daar is nie tyd vir klets in die Erika Volsteedt se klas nie. As sy vandag druip, sal sy nooit klawers onder haar vingers kan voel nie.

“Staan agter my,” kom die eerste opdrag. Sing “aahaahaaa” saam met die note. Sy fluister ‘n kort gebed en laat die klank haar keelgat verlaat. Wonder bo wonder klink die musiekjuffrou ingenome. Dan moet sy note tik en afwissel met die ander hand. Ook daarme lyk sy tevrede. “So wat wil jy bereik hiermee?”

Sy kyk af na haar hande. “Ag, sommer net speel. Dalk liedjies in die kerk. Iets om te skep wat beter as stilte klink.”

“Oukei, dit help baie,” sê sy en blaai om in haar noteboek.

Die volgende Donderdag breek aan. Eerste amptelike les. Sy leer van vibrasies, keëls, toonlere, van hoe musiek werk. Die binnewerke van ‘n klavier; die magiese dravermoë van hout. ‘n Wêreld gaan vir haar oop. Die fyn note moet sy hard druk, die laeres is luid genoeg. Dalk moet sy wat sag is ook harder begin praat, dink sy, en knik vir die kwaai juffrou.

Sy speel en speel en speel. Alles van noot af natuurlik, maar dis pret. Ook haar vingers druk verkeerd, dit moenie op die kussingtjies gaan rus nie. Elke beweging is nuut vir haar brein. By die huis laat sy die madame les opsê. En bietjies-bietjies kom haar sagte toonlere los.

By elke les kry sy raas. “Nee, nee, nee, jy moenie sáám met my speel nie. Die doel van ‘n teenwysie is om jou uit te daag!” Die vrou knik haar kop en tik verbete die note met ‘n blos op haar wange.

Ná klas sit sy in haar stowwerige kar. Dit was week 5 en haar krippel klanke klink steeds soos iemand wat verstandelik nie lekker is nie. Teleurstelling bly aan haar leermeester se gesig klou.

Dan onthou sy ‘n beeld. Jare terug. ‘n Huismaat wat langs haar verloofde sit agter die swart en wit klawers. Hulle het so saam gespeel en die note laat saamsmelt. Sy wil ook musiek saam met iemand maak met die Saterdagson wat lui inkruip. Want lang sinne het sy nie, maar klanke wil sy saam met iemand voel.

Dan draai sy die sleutel en beweeg deur die klipperige grondpad. Sy sal aanhou probeer, want sy wil stories weef met haar hande, haar kop rus op ‘n klavierspeler se skouer. Om te wieg in die klanke van diep geheime. 

Dalk is die musiekjuffrou se eina-lesse voorbereiding vir haar grootste liefde nog.

*Kunswerk deur Charlie Mackesy.

4 thoughts on “Klavierles

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s