Benjamin (20 maande)

Twintig maande vandag. Jou hande en voete word nou soos dié van ‘n volwaardige mens s’n, en dís ‘n bietjie scary. Bly nog ‘n bietjie baba, toe?

Die woordjies kom nou teen ‘n spoed! “Uitklim”, “inklim”, “altyd”, “wag”, “buite”, “tiete” (geen idee waar dáái enetjie vandaan kom nie!). Mamma weet darem om nie ‘n bohaai daaroor op te skop nie, anders gaan ons klomp permanent bloos.

Soos die weke inmekaar gesmelt het, het dit gebeur dat ek vir ‘n rukkie moes weggaan. Tannie Lucky was Turkye toe. My koskas is leeg maar my paspoort vol. Mag jy ook eendag die voorreg hê om vêr horisonne onder jou voetsole te voel. Solank jou hart jou weer huis toe lei, waarookal jou tuiskoms mag wees.

Ek hoop jy hou van die vlieënier wat ek al die pad van Istiklalstraat in Istanboel vir jou gekry het. Die houtmannetjie met sy pikante bril trap ‘n fietsie met vlerke. Die man wat dit gemaak het se passie sit in sy oë. Daar was karretjies, tolle wat spin, poppe wat hang en paddas wat kwaak. Maar ek is mal oor die trappende oompie se erns en die mandjie op sy rug met ‘n bottel iets (kom ons sê maar melk) in. Sussa het ‘n marionet gekry. Haar eie Pinocchio.

Sy is nou jou avontuur. Jammer ek was weg toe Yua op Lentedag gebore is! Ek kan nie glo hoe klein sy is nie. Jy met Pappa se kuite en sy met Mamma se lyfie. . . daai fyn, fyn beentjies is met sorg aanmekaar geweef.

Sussa Yua, nog net ‘n handvol daggies oud.

Gister het ek gesien hoe jou handpalm liggies oor haar koppie streel. Dít terwyl jy geen genade met die katte nie – die liefde loop dik en met mening! Maar in jou binneste weet jy reeds jy moet sagkens met Sussa werk. Mamma sê vandag Sussa het selfs ‘n soentjie in die nek van jou af gekry. . . sommer ‘n paar tellings lank! Ek is mal oor dié foto van jul heel eerste ontmoeting.

Toe ek weg was het ek 35 geword. Dis ‘n mooi syfer en ek is trots op die avontuur wat my lewe tot dusver was. Soms is die dae wat verbysuiker niks behalwe oorlewing nie. Maar dan skep ek weer moed en kan ek in die oë van die groot Misterie kyk, en weet. . . He’s got this.

Ek het in Nevsehir verjaar. In ‘n kerk op die vyfde vloer van ‘n stokou woonstelblok. Die hyser was so klein, net ek en jy en ‘n piepklein tas sou pas. Die Here vat my na die vreemdste plekke. Mamma los toe vir my dié kosbaarste stemnota, wat ek op die bus op pad Zonguldak toe beluister het. ‘n Lugboodskap vol liefde wat ek moes vasvang en uittik sodat dit op ‘n manier behoue sal bly. Hoor ‘n bietjie hier. . .

Jissie, my hart voel sommer emosioneel om te dink waar jy is en hoe bly ek vir jou is dat jy dit alles kan ervaar. Dit lyk na ‘n wonderlike, wonderlike tyd wat jy het. Ek is so bly jy het “ja” gesê hiervoor. Dit is iets wat jy vir die res van jou lewe gaan onthou. Daai foto’s is rerig van die mooistes wat ek nóg gesien het. En ek dink om hierdie mense om jou te hê wat vir jou hierdie liedjies sing en hande klap. . . ek meen, hoe special is dit. En jy kan terugkom na ‘n huis toe waar daar soveel mense vir jou wag wat dieselfde vir jou gaan doen. So jy is eintlik ‘n baie geseënde meisie. Ek wil net vir jou sê ek dink al die hele week en spesiaal aan jou vandag. Ek vra regtig dat hierdie een van die wonderlikste jare in jou lewe gaan wees. Ek bid vir vrede, sommer in alle aspekte van jou lewe, Lucky. Jy doen só goed, en dat jy net verder sal groei in dít wat jy nou doen. Dat jy so aanhou gehoorsaam sal wees, want ek dink daai gehoorsaamheid wys nóú in jou lewe. Jy kan sien wat dit vir jou beteken as jy luister en God se wil soek. Dis vir my só mooi om dit te kan sien en ek bid rerig vir ‘n verdere diepte in dit ook. Julle is nou halfpad. Ek bid dat julle die laaste ruk baie gaan geniet. En as daar uitdagings is, dat jy nuwe krag sal kry. As jy dalk moeg is of so, dat dit net wonderbaarlik weg sal gaan. Dat die tweede stukkie net so amazing sal wees soos die eerste stuk. Verder gaan dit baie goed met ons hierso. Ons gaan mooi aan met die borsvoeding. Dis nie, soos, baie baie maklik nie, maar ons gaan aan. En dit lyk of dit hierdie keer suksesvol gaan wees, rerig ‘n wonderwerk. Ek kan amper nie dink dis besig om te gebeur nie, maar dis daai weke en weke se bid voor die tyd, ek sê dit gister vir Ma. Dis net vir my wonderlik om dit te kan sien. En ek dink daai klein Benjamin Kamoetie, Kamoetsmoets, mis nogals sy Tannie Lucky. Kort-kort dan hoor ek hoe roep hy vir jou, en gisteraand toe roep hy ons om die maan te kom kyk. Ag, toe wil ek sommer. . . Ja, toe dink ek dis nou hy en sy Tannie Lucky se ding. Maar ja, groot seuntjie nou, baie baie groot. Hy het gister ‘n gogga in die tuin gevang, en so tussen sy twee vingertjies vasgeknyp en in die huis in gehardloop, toe sien ek net so bruin ding tussen die vingertjies, toe dink ek ag ek weet nie wat. . . in elk geval toe maak hy dit oop, wriemel die gogga’tjie nou, toe giggel hy so en nou loop die gogga’tjie oor sy hand en oor die lyfie. Ma is natuurlik heeltemal histeries. En ek sê nee, Conrad het gesê ons moet hom leer om nie bang te wees vir sulke goed nie. So, maar ek kan sien Betta staan reg met die mop, Ma hardloop die gang af en Benjamin staan en giggel hom dood. Toe het ek dit vir hom in ‘n kosblikkie gesit, so dit was ‘n baie groot entertainment. En gister toe huil sy sussie, toe gaan haal hy sy dummie, toe sê hy “dadda?”, toe gee hy dit vir haar. Dit was so mooi. Sy is. . . dis eintlik beter dat dinge so uitwerk, want jy het gedink hy is klein. So hy het nul tot drie maande klere nooit gedra nie want dit was te klein vir hom, hy het mos van drie maande af op gedra. Die nul maande is vir haar te groot, Lucky. Sy dra nou net prem-klere, en sy verdrink daarin. Ek het amper niks klere vir haar nie. Sy is. . . ek weet nie. Toe hulle haar ontslaan toe is sy 2.6. Hulle verloor mos maar ‘n bietjie in die hospitaal. Sy is die fynste. Die suster het gesê dis ‘n baie klein, fyn meisietjie hierdie. Maar jy moet haar sien. Conrad vat nie rerig aan haar nie, want sy is verskriklik klein. Haar doeke moet ek omvou, so klein is sy. Maar ek dink sy laat dink Ma nogal aan jou toe jy klein was, want sy is net so rustig, kyk maar net so die wêreld. Ja, baie, báie soet, soet babatjie. Een week, dan hou jy haar vas. Oukei my liefste sussie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s