Benjamin (19 maande)

“Hy leer my regtig om op te kyk,” sê Mamma vanaand. Ons het nie veel van ‘n keuse nie, want nes die son gereedmaak om af te klouter, roep jy: “Maan? Maaan?!” en móét ons haar gaan soek voor jy kan gaan bad. Vanaand, toe die lig nog so ‘n waterverfblou was, moes ek verduidelik Maan! moes net gou eers haar neus poeier voor sy haar verskyning kan maak.

“Nounou kom sy uit dan vra sy: Wáár is Benjamin Kaaaaa-moets-moets?” Om jou laggie hier op my heup deur my lyf te voel is ‘n doepa wat geen health shop kan aankoop nie.

En nes ek deur toe mik, tuit my linkeroor van “Maaaaaaan!”. Sy het wraggies agter my rug deur die takke geklim vir jou, liefste seuntjie. Groot en vol vuur was sy, nes jou blydskap omdat die dag uiteindelik ‘n full stop gekry het.

Die mooiste ding van Mamma is hoe sy jou saam met vreemdelinge bewonder. Gewone ma’s skud gewoonlik net hul koppe of kry gou ‘n raaswoordjie in, maar Selly sal altyd ietsie highlight wat vir haar op daardie dag spesiaal is. Soos die een broekspyp van jou wat áltyd opskuif, “sodat ‘n boerbeentjie daardeur kan koekeloer,” het sy vanaand met skrefiesoë vol liefde gesê.

Terug by die huis merk ek my perskeboom het dit al weer verkeerd; die bloeisels bot veels te vroeg. Maar daai boom, wat ek gekry het toe ek ‘n raps ouer as jy was, weet iets van die nabye toekoms.

Dit is die laaste inskrywing van jou enigstekind-wees voor die lente aanbreek. Ek is hartseer en opgewonde in gelyke sarsies, want jou lewe gaan oor twee handevol slapies vir altyd verander.

Nog ‘n asempie gaan die Bornman-huisie vul, ‘n sussa vir die een en enigste Benjamin.

Kollega Ninon sê nou die aand jy gáán jaloesie ervaar, dit is ‘n gegewe. Dit kan so wees, maar ek glo jy is ‘n gebore ouboet. Die Bybel se Stam van Benjamin was sterk en wou ten alle koste die swakker geslag beskerm. Ek weet jy gaan simpel seuntjies verjaag, en vir sussa wys hoe besems nou eintlik werk (om verwoed te vee, vee, vee is mos jou gunstelingtydverdryf!)

Mamma sê sy skop veel minder as jy. Of hoe het sy dit gestel; sy is “stiller” as jy. Ek kan net sien hoe maak sy sulke klein speech bubbletjies daar in Mamma se pensie. Al dra sy nou swaar aan die pikante sokkerbal, voel ek weer ligter oor julle nuwe blyplek, veral nou dat julle in ‘n huis woon met ‘n horison van veiligheid sonder staal trappe.

Dit is ‘n sagte landing uit Vader se hande – hierdie lekkerleefhuis in ‘n vriendelike straat. Maar ek kan nie help nie; iewers diep binne is daar ‘n bietjie bedroefdheid,  want hoeveel klein lyfies het nie hierdie voorreg om in ‘n huis vol liefde groot te word nie? Wat in ‘n koue bed onder ‘n sinkdak gelos word met ‘n twee dae oue doek.

Ek weet die grootte van die huis bepaal nie die vastigheid en gewig van die warmte en liefde daarbinne nie, maar ons mag nooit ‘n blinde oog gooi vir armoede en ellendigheid nie. Dit is ‘n wêreld wat Seuntjie, jou geliefde tuinkollega, goed ken. Mag jy altyd so lief vir hom bly. Mag jou hart altyd oop wees vir die mense wat nie soos jy lyk nie.

Mag die swaartrek van ander en ongelyke gronde jou altyd grief, want dit sal jou koers bepaal, al speel dit net ‘n rol. Dalk kan ek nou al vra dat jy en sussie van jongs af ‘n visie van en hongerte vir jul roepings kry, en nie vastrap in die boetebosdoring van die wêreld se nog, nog en nog goeters nie. 

Mag jy bly opkyk, die Misterie naarstiglik opsoek en uitroep, veral as die wreed en wonderlike wêreld vir jou een te veel raak.

*Kuns deur Charlie Mackesy

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s