Benjamin (18 maande)

Geluk, liefste seuntjie. Vandag is jy 18 maande op die derde planeet vanaf die son. En ons wêreld spin steeds moeiteloos rondom jou. Dit begin nou lekker raak, veral as sekere woordjies al ‘n outomatiese effek het. 

Soos as iemand dit waag om “hoender” te sê. Ongeag die konteks, kan ons ons maar regmaak vir ‘n luide gekekkel uit jou bekkie. “Haaaaa!” sal jy met oorgawe skree, en dan lag jou ogies as jy jou lippe saampers vir die “pik, pik” wat nooit jou bekkie ontsnap nie. Lyk elke keer of die “pikke” êrens vassit en jou magie kielie. 

Maar die lekkerste lekker is as ons sê: “Maak sterk mannetjie” en jy trek daai skouertjies op en gaan in ‘n bewerasie in om jou kragte te openbaar. Dan tel jy gewoonlik vir Albaster op asof hy net ‘n bol watte is! Soos alle mans leer jy nou reeds hoe om daai harde doppie op te sit, en ons wys jou nog hoe ook! Dis eintlik hartseer. Maar dan duik jou dimpels in soos enkel aanhalingstekens en lag ons weer saam soos ou storievertellers. 

Jou liefde vir boekies laat ons harte juig. Veral as ons sien hoe die kokaïen van die internet reeds haar tande in jou wil slaan. Hoe jou ogies nie knip as ons Baby Shark op repeat het nie. Nee, nee, nee, ons moet bly lees van A is vir appel. Van helde en vegters. Jy moet meer bladsye in jou lewe blaai as koue glasskerms swipe, asseblief!

Ek is so trots op Mamma, Pappa en Ouma wat besluit het screen time is taboe vir solank as wat ons almal dit kan help. Want “buite” (een van die woorde wat jy sommer gou baas geraak het) kraai mos koning. 

Deesdae bemeester jy ook die kuns van kwaadword om jou grense te stel. Jy wriemel jou lyfie so dat niemand jou kan optel nie. In ‘n oogwink maak jy jouself onoptelbaar. 

Soos die ander dag, toe jy in die kattebak wegkruip en ek ‘n ogie oor jou moes hou. Jy het skielik besef jy moet ‘n slapie vang (Doedoehasie roep!) en die slapiestoel is op die sitplek anderkant die “muur”. So jy wou jou lyfie oortuimel, wat heeltemal sin in jou kop gemaak het. Maar die val sou hard op die doerkantste sitplek wees.

So ek wou jou eerder optel en buite omstap, die deur oopmaak, en jou in jou stoeltjie tel. But you would have none of it. En dan voel ek ‘n bietjie jammer vir jou. En die mensdom. Ons veg en baklei om ons sin te hê, want ons sien nie die volle prentjie nie. En die val lyk nie so hard van waar ons staan nie. 

Dit bly my hoogtepunt om ná ‘n werksdag by julle huis stil te hou. Om te sien hoe jou armpies soos vlerke oopgaan en jy driftig aangestap kom soos ‘n Griekse winkeleienaar. Altyd bly om te sien. Maar jy soen vir Ousus Charmaine soos ‘n ou lover, en dit maak my ‘n bietjie jaloers!

As ons vra “waar’s jou sussie” lig jy Mamma se trui en wys met jou vingertjie na haar maag. Asof jy die aardbol op jou wysvinger balanseer. 

As ons vra “waar’s jou sussie” lig jy Mamma se trui en wys met jou vingertjie na haar maag. Asof jy die aardbol op jou wysvinger balanseer. 

Die toekoms baar sulke onuitspreelike, goeie dinge. 

Ek sien uit na die lente, my kekkelbekkie. Na genesing, na bloeisels, na ‘n nuwe baba asempie. 

Benjamin (18 maande)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s