Soom

Polite inclusion is the gateway drug to mercy.

Anne Lamott

Hierdie rok se naam is Eva, besluit Sara met die lap op haar skoot. 

“Want jy is net so goed soos jou laaste rok, en hierdie is ‘n nuwe begin,” sê sy sag in die stilte van haar Seepuntwoonstel. 

Hierdie keer is daar niemand behalwe Instagram wat wag vir inproses-foto’s nie. Haar ma kon so lekker lag vir haar skewe bolla wat by die rok uitsteek as sy dit teen haar lyf hou en haar gesig verberg.

Haar volgelinge op Insta is clueless, dink sy, en vat ‘n laaste sluk koue Jacobs-koffie.

Sy kan nie sê hoekom hierdie rok anders as al die ander is nie. Dit moet wees, sy is dors vir iets anders as haar beddegoed en die grys mure. Dit was maande se leeglê. Haar hande voel dom. Sy sal hulle van voor af moet leer vat, trek, stuk, seerkry onder die naald se prikke. Eva sal vir Sara moet wys hoe om oor te begin. 

“Eina, jou ding,” sê sy sag toe die naald haar duimnael tref. 

Die dik omboorsel van die freesias moet vreugde bring. Of ten minste hand bysit om die gebroke stukke aan mekaar vas te hekel. Sy het nooit gedink die dood van haar ma sal so vassteek en bloed trek nie. Sy het soms vir hierdie dag gehoop omdat die laaste tyd net te swaar was. En toe sê sy ja vir die bruid met die rooi bos hare. 

Haar gesig vertrek van die pyn agter die koffietafel. Dis haar laatnag-werkspasie, wanneer die ateljee te klein word as die middernaguur kom, en Downton Abbey, haar enigste geselskap al kyk sy dit met geen klank nie, haar na nuwe sfere bring.

Haar gedagtes kleur self die spraakborrels in met nou-en-dan se opkyk. 

“Wat as die korset my dooddruk, wat as die lewe se greep wen?”

Louis vernou sy oë as hy opkyk na sy mensema. Vir ‘n oomblik het hy gedink sy roep hom. 

Die borduursel op haar skoot is die bewysstuk van talle nagte se sit. Dan vee haar moeë oë oor die karakters se uitrustings op die platskerm. Na maande se stilte het sy haar deur oopgemaak vir Clarissa, Eva se eienaar. Sy het gedink sy vat dit een kliënt op ‘n slag. Nie soos in die verlede nie, waar vier bruide én hul bruidsma’s haar drumpel deurtrap het met hul pretensie en neurose. Vir ‘n lang tyd hoef sy nie Woolworths se Forty Winks tee te gekoop het nie. Nee, sy het ‘n swaarder dwelm nodig gehad. Maar dr. Yazbeck se simpatie het opgeraak. Die skedule 6-krane toegedraai.

“Dis tyd om op te staan, Sara,” het die klein Joodse vroutjie agter haar blink lessenaar gesê.

Sara ondersoek die karakters op die skerm. Eva moet dieselfde trefkrag as Lady Mary Crawley se rok hê, dink sy met ‘n naald tussen haar tande vasgeklem. Dieselfde trefkrag as die draer se rooi lokke. Want, dié keer hou sy van die bruid.

“Suster, is ek nou bly ek het by jou uitgekom. Ek kan sommer voel ons gaan pelle word.” Dit was Clarissa se eerste woorde aan haar. Die vrou het ‘n lemon meringue-tert saamgebring. Sara moes nog haar mooi borde afstof. En verskoning maak dat die koekvurkies weggepak is.

“Gaan sit vrou, ek maak vir ons koffie. Suiker?”

Sara kon haar net agterna kyk. Sy het vir Louis op haar skoot getel en aan die vreemde situasie probeer vat kry. 

Sy is gewoonlik uiters professioneel en formeel met haar klante. Stywer as ‘n té klein rok van Crepe de Chine. Want sy moet in beheer wees. Die ma van die bruid so gou as moontlik laat kalmeer. Die bruid leer ken, al krap die kant dat sy wat Sara is wou huil van irritasie.

Met haar rooi lokke wat oor haar mollige lyf val, is Clarissa ‘n oop boek. Die vrou is onvanpas, effens uit beheer, en eenvoudig beeldskoon, het Sara later die dag besluit, toe haar studeerkamer vol krummels, leë koppies en tydskrifte gelê het. En steeds was daar nie ‘n konkrete plan vir die vrou se rok nie.

Hulle het oor Sara gepraat, want Clarissa wou weet. 

“Jy sal weet wat werk,” het Clarissa aanhou sê toe Sara by die punt van die vergadering wou kom. . 

“Kyk hierdie mooi, lived in, plek. Dis fabulous. Jy weet, dit is wat ‘n safe space is. ‘n Mens kan sien wie bly hier. ‘n Lovely mens.”

En nog voordat Sara iets kon uitkry. 

“Vrou, hier wil ek wees. Vertel my eers wie jy is.”

Sara was vir ‘n oomblik sprakeloos. Sy kon die vrou voor haar net aankyk. Vir die eerste keer na haar ma se dood, wil iemand met haar gesels oor iets anders as ‘n rok. Maar sy het stilgebly oor haar ma se siekte en skielike heengaan. Clarissa kon optel dis ‘n halfmens in die vertrek, dat Sara plat is. En net deur ‘n uitgeteerde liggaam regop gehou word. 

“Ek is nie goeie geselskap nie. Dalk ‘n volgende keer,” is die twee sinne wat sy vir almal, tot haar broer, keer op keer gesê het die laaste halfjaar. Dit is nou as sy geantwoord het. 

“Jy kan nie mense net so uitskakel nie,” was dr. Yazbeck se woorde met hul laaste sessie. 

Maar sy verstaan nie die vestikkende verlies van ‘n ma nie. 

“Find your tribe and love them hard,” was die woorde op die simpel Instagram-kaartjie wat sy op haar foon gestoor het. Dit het haar skoon depressief gemaak. Al tribe wat sy het is die agt duisend Insta-volgelinge, vreemdes uit die verte. As daar wel ‘n tribe vir haar was, sou Clarissa beslis ‘n lid gewees het. Sy tel die gesette bont kat op en soen hom in die voue van sy nek voordat sy die TV afskakel en na haar slaapkamer drentel.

“Ja, dalk is daar tóg ‘n tribe vir my. Kom, ou vette.” Sy het Louis die kat onder haar arm gedruk en onder die dik lae troos van haar bed geklim. 

Clarissa was vroeg die oggend voor haar deur. Sara sou dit nooit duld met ‘n kliënt nie. Maar nou staan die vrou met ‘n ‘n vlegsel gedrapeer teen haar nek af en twee wegneem koffies anderkant die drumpel. “Die seelug wag, ou slaapkous.” Sara vryf haar oë en maak plek vir Louis wat verby wil kom en sy lyf teen die vrou se enkels wil druk.

“Gee my tien minute,” het sy in die omdraai gesê. 

Daar was min mense op die promenade. Die bewolkte weer het die mistigheid se misterie verhoog. En daar wag hy hulle in; Stefan, haar verloofde, in ‘n rolstoel. 

“Sara, uiteindelik. Ek het al so baie van jou gehoor.”

Hulle het elk, met ‘n take-away cuppuccino in die hand, seelangs gestap. En met elke treë het die besef al hoe duideliker geword; haar tribe is aan die anderkant van verlange se soom.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s