Jy is een verskriklike jaar oud. Ek sê ver-skrik-lik, want die jaar was vol goeie en slegte skrikke. Soos ‘n harde nies in ‘n stil kantoor is ‘n goeie skrik goed vir die bloedsomloop.
My gunsteling skrik ooit het Sondag, ‘n dag voor jou versjaarsdag gebeur.
Dit was asof iemand my binneste kielie. Ek kon nie die vreugde inhou nie. Met ons tydjie alleen in die môredou, het jy skielik ‘n sein gegee.
Jou hele gesiggie speel saam as die trane kom en jou lyfie hartseer inmekaarvou. Dis ‘n diep maar kortstondige huil. ‘n Oerklank wat sag op ‘n vrou se ore val. Ek het geweet dis hongerte wat so praat.
Jou bolwangetjie plak teen my sleutelbeen, asof dit net die legkaartstuk vir jou troos is.
Stilte op pad kombuis toe.
Maar dit is nie die hongerskrik waaroor ek wil skryf nie.

Nee, die heilige onkantvang het gekom toe jy ‘n kwartuur later in jou eetstoeltjie sit. Daai selfde wange was toegeverf met ‘n joghurt-, piesang en grondboontjiebottermengsel; jou Tannie se Breakfast of Champions; die drie bestanddele wat saakmaak. En toe skielik. ‘n Kyk.
Met jou koppie ‘n paar akse skuinsgedraai, en ‘n uitdrukking wat ek nog nie vantevore gesien het nie, was jy vir ‘n paar tellings soos ‘n standbeeld versteen.
Met oë vol onverdunde liefde en ‘n oop mondjie met ses dwaaltande het jy ver verby my lae en lae skanse, skaamte en “reg”wees gesien. Ek het klankloos begin lag soos wat my mure een vir een omtuimel met dié kyk. Omgeboul was ek beslis.
Jy het nie ‘n spiertjie veroer of ‘n oog geknip nie. ‘n Soort verwelkoming, ‘n hemelse verwondering sonder ‘n gryntjie oordeel ondanks alles nog ooit… dit is wat uit jou gevloei het.
En toe kom mý trane.
Was die scary, wonderlike kyk joune, Baba Benjamin? Of het God vir my in daardie paar tellings (drie of twintig, weet ek nie) agter ‘n piesangmasker geglimlag?
Ek sal nooit weet nie. Maar dit is tot dusver my gunstelingskrik. Toe die Liefde self my wang kom streel.
Hoe pragtig! Daar het jy nou hierdie ouma se trane ook losgeskryf.