Londen: Dag 10, 11 en 12

Ek vat die drie dae saam, want soos ek hier in die dorre Vrystaat sit, is die laaste ruk in Londen ‘n waas in my geheuebank. Die BA55 was geen droom nie, en die Citybug het gevoel soos ‘n ewigheid toe dit na die binneland suiker.

Met die rewind-knoppie duik die Barbiepop-brug dadelik op. Dit het ons baie laat lag. Nie omdat dit soos iets wat op ‘n kinderpartytjiekoek hoort lyk nie. Nee, die poppe wat so voor die magiese Londen Bridge “pose” was ons bron van vermaak.

Dit is iets om te aanskou. Vroue wat hulle laat opmaak en allerhande posisies voor die blou brug inneem. Met alles behalwe ‘n glimlag op hul gesigte. Dit is nie mooi om vir ander mense te lag nie, maar soms is dit die geselskap waarin jou bevind wat sekere situasies ‘n duisend maal snaakser maak as wat dit op jou eie sou wees.

Natuurlik wou ek ook ‘n kiek voor die London Bridge kry (die ydelheid het my nie geskiep nie), maar dit het gesukkel, want as die lagbui jou eers beet het…


Almal moet seker een keer in ‘n leeftyd ‘n alleenreis aanpak, maar as hierdie trip my een ding geleer het, is dat die mens mekaar nodig het. Al was Google Maps baie handig, was ek nog steeds op vreemdelinge aangewese. Vir die Suid-Afrikaanse Londeniete wou ek nie ‘n las wees nie, maar dit was ‘n bederf om nou en dan met hulle te kon uithang. Jy kry ‘n ander smakie van die stad tussen dié wat die plek huis noem.


Nikki (heel regs) het baie slim wenke om te gee; sy ken die plek soos die palm van haar hand. En Maryke (middel) is net ‘n treat! Sy het my só laat lag. Sy is ‘n arbeidsterapeut en woon al vier jaar in Londen. Soos ek verstaan is die doel om “indefinite” verlof en die Britste paspoort te kry, en dan kom sy huis toe. As ons geroep is om sout te wees, is dié klompie Himalayan seesout, die soort wat jy by die Borough Market kry.


Die Tower of Londen Museum het meer aandag verdien as wat ek dit gegee het. Maar die triestige dag en moeë voete was weereens nie die beste kombinasie nie, en ek was nie lus om die dooie Britte jammer te kry nie.

Ek weet nou wel Koning Edward het ‘n ysbeer vir ‘n troeteldier gehad, en dat die aanhouding van die Royal Beasts van meet af ‘n slegte idee was.


Hier is Koninging Victoria se kroon. Een van vele wat ons oor kon “drool”.

Voor ek Heathrow toe is, moes ek net vinnig gaan kyk hoe dit by Sky Garden lyk. ‘n Welige tuin op die 35ste verdieping is die besoek werd, veral met ‘n dubbelskeut koffie in die hand. Van hier bo sien jy al die moet-sien-plekke. As ek my oë op skrefies kon trek, sou ek sweerlik tot in Afrika kyk. Ek was gereed om huis toe te gaan.

Die twaalf dae het my baie aan die konsep van “huis” laat dink. Of om huis toe te gaan. Waar is huis? Ek het die laaste elf jaar 15 keer in die Kaap rondgetrek, alewig op soek na ‘n tuiste. Ironies genoeg, het ek dit langs die pad gevind. In die stiltes tussenin het ek tuisgekom en kan ek vrede hê in my eie vel. Met pelle, liefdes en genesing in verhoudings. In ‘n sin is ek nou tuis. Bloemfontein is immers my grootworddorp. Maar die regte tuiskoms is ‘n “inside job”.

Henri Nouwen het ‘n mooi beskrywing van huis in Die Terugkeer van die Verlore Seun.

“Dit is die plek wat my uitdaag om te aanvaar dat dit dikwels baie moeiliker is om jou in liefde, vergifnis en genesing te laat omhels as wat dit is om dit te gee en uit te deel. Dit is ‘n plek verby swoeg, verdien en beloon word. Dit is die plek van afstand doen, van prysgee en volledig vertrou.”

Ja, ek is bly om tuis te wees.

5 thoughts on “Londen: Dag 10, 11 en 12

  1. Wow girl!!!!
    Soooo mooi, maak my sommer reg om weer my tassie te pak huis toe…
    Was soooooo lekker om jou te ontmoet… suster in Christus!! En sien uit na jou journey verder saam jou!!!
    Baie groete!!!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s