“Londen toe? Alleen? Soos in op jou eie?” vra Nic die haarkapper my in die spieël. Met my nat kop agteroor lag ek vir hom. “Is dit dan so ‘n bisarre idee?” Hy vra wie my gaan afneem as ek langs die queen in Madam Tussauds staan. Ek trek my skouers op.
Dan val hy skêr in die hand weg met staaltjies en raad. Hy het vir twee jaar in Londen gewoon, ongeveer tien jaar terug. Voordat Google jou gewys het waar om te trap. Voordat Instagram met sy filters jou kon flous. Vaderlik vertel hy vir my waarvoor ek versigtig moet wees. Grootogig neem ek alles in, al hét ek al gehoor van die gemaklike skoene wat ‘n moet is, dat dit bitter koud gaan wees, en dat ek by ‘n koffiewinkel moet gaan sit en die mense buite moet dophou.
“En onthou ‘n sambreel,” sê hy uiteindelik met ‘n warm glimlag toe ons by die deur groet.
Buite prik die Desemberson my vel soos spelde, en herinner my aan ‘n moeilike jaar. Maar ek sal dit nie anders wil hê nie. Ek het ‘n dik vel en sterker spiere bygekry. En hopelik is die hart ‘n bietjie sagter ná 12 maande se val, se opstaan, se leer asemhaal.
Ja, ek is gereed vir weggaan en wegraak. Net vir ‘n rukkie, net vir elf dae. Ek sien die meeste uit na die sagte mooi van die kersfeesliggies, die argitektuur, ver loop en ontdek, ontdek, ontdek. En dalk sal dit sneeu, en my binneste nuut maak.
Noem my vreemd, maar my skrywersbloed hou van triestige weer en lang aande.
Dalk kom hier mooi stories uit.
