Benjamin (8 maande)

Ons albei se oë was pieringgroot toe ons dit hoor.
‘n Harde gil uit jou keeltjie. Asof daar ‘n nare iets in jou kamer is. Ons het teruggedraai van die voordeur. Met drie reuse treë die staaltrap bestyg.
Daar was niks, net Lize Beekman se wiegeliedjie-CD op repeat. Jou ogies was toe maar jy het gekreun. Mamma kon jou vinnig troos. Dit moes ‘n babanagmerrie wees, ‘n iets wat jou kom pla het.
En net daar, langs jou bedjie het ek onthou daar is ‘n ding soos duisternis. Op dieselfde oomblik, sewe kilometer weg was swart ink besig om op die koerant se sagte blaaie gepers te word. Handevol stories met skok, seer en klein flitse hoop.
Later het ek en Mamma vinnig in die koue nag omhels voor ek ry.
Met die vorige brief het jy nog nie oogwimpers gehad nie. Nou kou jy al ‘n aarbei soos ‘n erdwurm met twee ysberg-tandjies.
En jy práát; kom met nuutskeppings soos “jega-jega” vorendag! Klink ámper soos Tannie Lucky, maar ons sal daar uitkom 😉
Jy het jou eie taal en ons gesels dommerig saam. Iemand van buite sal lag. Hoe ons knielend voor jou neerdaal op die mat. Vir ‘n drukkie, vir ‘n oomblik se gesels, voor ons weer soos motte opvlieg na die volgende ding.
Snaaks, ons ywerigheid om op jou vlak te klouter, maar om mekaar se uitkykpunte sonder oordeel te bekyk voel soos ‘n styl en strawwe berg.

En ‘n nuwe gebaar; jou armpies wat op en af swaai; jou eie handeklap-dialek.

Dis jou taal, en ons hang aan elke sin.
Op jou vlak sien ons hoe veilig die grond is; hoe soet ‘n sagte landing smaak.
 In slow motion val ons van ons perdjies af.
En die gedagte bly my by; die “bose mens” in die koerant was ook ‘n klein seuntjie met kraailaggies, groot verwonderende oë, en ‘n hongerte vir Purity en liefde. Nes jy.
Is daai seuntjie vasgehou?
Ek twyfel.
Hoe bly is ons Winter het haar sak lemoene gevat. Was sy nou ‘n kwaai vrou met ‘n byt aan haar!
Half ongenaakbaar het die fisioman jou getik; aaklig was die pypies in jou neus. Jou stem, geskaad deur die nare longontsteking het iets binne my ontstel wat ek nie eers met ‘n X-straal kon uitwys nie. Maar jy het ons almal verbaas met jou wilskrag, met jou kuiltjies wat die Vrystaat se stof en stories wil vasvang. En die Vader is altyd doenig agter die skerms.
Nes mamma en pappa een aand toe ek oorslaap.
Dit was ‘n wonderlike dreuning bo my kop. Hul voetstappe wat in die kleinure woeker. Eers groot, swaar treë, en dan fyner stappies. Alles om jou gemaklik en verborge te laat voel.
Hulle doen die ouerskap-tango so goed.
Jy rol die nuwe seisoen binne, en wanneer die wolke weer saamdrom om die somerreën te roep gaan jy heel waarskynlik met ‘n spoed begin kruip, omtuimel met ‘n laggie en met daai grysblou ogies in ‘n blaredak vaskyk.
Dis mos jou gunsteling screensaver.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s