Rachel se hartkamer

My huis bestaan uit twee vertrekke en ‘n piepiekleinbadkamer. Party lag as hulle oor my drumpel stap. Dalk is dit vreemd dat my woonkamer my kombuis ingesluk het; my oond staan langs my rusbank, wat neffens my kantoor-area staan. Maar hulle weet nie hoeveel plek daar vir rus in my pophuis is nie.

Ná nege jaar se nomadiese rondtrek, deposito’s, en gejaag na wind (die Suidooster, om spesifiek te wees), woon ek nou net in huise, maak nie saak of dit toevallig vas aan ander huise is nie. Tans skrop ek nes in die buik van ‘n groter huis.

In die enjinkamer van ‘n sprokiesplek dink ek nuwe drome uit.

Dis vroegherfs in die Vrystaat. Op my stoep is daar kunsgras, klippe en pegolias. Laasgenoemde wys eers winter gesig. Vir nou is ‘n see van roesbruin blare my uitsig.

Maar waar ek kyk sien ek vir Rachel, die hoofkarakter van die boek wat my gister pens en pootjies verslind het. Ja, ek het geval vir ‘n blitsverkoper, ‘n donker roman, ‘The Girl on the Train’.

Demmit, Paula Hawkins. Danksy jou, flits dié vrou kort-kort voor my.

Want Rachel hou aan verloor. Haar man, haar werk, haar lewenslus, haar nugtere denke. Soggens vat sy halfdronk die trein na ‘n kamma-werk, net sodat haar woonstelmaat nie agterdogtig moet raak en moet uitvind dat sy maande terug reeds haar werk verloor het nie (woonstelmaats kán nogals op ‘n mens se case wees).

As leser vóél jy die ontsporing van haar steierende voortbestaan.

Waar ek nou is, neem haar verbeelding oor en maak sy stories op oor die skakelhuisies anderkant die treinvenster.  Op ‘n verwronge wyse raak sy dan deel van dié vreemdelinge se werklikheid. Spoiler alerts opsy; lees dit as jy luskry vir ontvlugting. Dis onsettend boeiend en maak jou dankbaar vir nugterheid, vir neulende woonstelmaats wat aanhou omgee.

Ons is dieselfde ouderdom, ek en “Rache”. Ons albei ongetroud, sonder kind of kraai. Wie wil in elk geval ‘n kraai hê? Die goed raas en mors oral. Maar Rachel maak een groot gemors van haar lewe. En sy kan nie ophou nie. Ophou drink nie, ophou nie haar CV stuur nie, ophou haar eks op onchristelike tye bel nie.

Rachel het ‘n kamer waarin haar bed net-net pas. En ‘n laai vol gisters wat haar in ‘n hoek druk.

En so probeer sy deur die nek van ‘n bottel Chenin Blanc ontsnap.

Rachel het ook twee hartkamers soos ek. Uit die een smag sy om haar lewe weer op koers te kry, en uit die ander vertrek, terg haar verslawing en ‘n diep, dreigende eensaamheid. Dit lei keer op keer tot ‘n moewiese ontsporing, met drank as brandstof.

Ek sit hier en ek wens ek kan vir Rachel help. Ek verstaan haar obsessie met die skynbaar gelukkige getroude paartjie, vyf huise van haar getroude eksman. Ek verstaan die leemte in haar bors wat sy met berge blikkies gin en tonic probeer vul.

Dis vrek moeilik om kers vas te hou met dié wat al by hul tweede kind is en lyk of hulle die lewe sonder enige steierwerk aanpak. Maar wat, ek. . .  ek sal orraait wees, maak nie saak wie en wat aan my pophuis se balke kom ruk nie.

Ek dink Rachel gaan ook oukei wees, al het ek nog ‘n ver pad om te gaan.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s