Wat’s dit met fraai boekies?

Nooit kan ek ‘n skoon notaboek weerstaan nie. En die persoon wat vir my een as ‘n geskenk gee, het ek dadelik lief. Want hierdie mens verstaan my en verstaan die dors na ‘n skoon bladsy in ‘n 33-jarige se dwarrelende lewe, al is dit in die vorm van ‘n saamgepersde boekie.

Watse vrou wil nie ‘n nuwe begin in haar handsak rondra nie? Dis ‘n boek vol geduldige oases met reguit lyne wat wag vir borrelende storie-idees, doenlysies, DIY-projekte … woorde wat poog om sin te maak van die lewe.

‘n Man het eenkeer vir my gesê “Jy is my vakansieplaas.” Dit was vir my so mooi in daai oomblik. Ek moes dit eenvoudig opneem in my blommeboek.

Wat as die droom wat jy laasnaag gehad het en die een wat jy oor ‘n maand gaan hê, deel is van ‘n reeks wat die Storiemaker spesifiek vir jou uitgekerf het? Die enigste manier wat jy die patroon sal sien, is as jy dit neerskryf.

In my boekrak stapel ou notaboeke op.  Ek trek ‘n 2013-een uit en slaan dit in die middel oop. Noodkrete vermom as gebede, skewe begrotings, semi-soet herinneringe, gewaagde voornemens… Ek blaai om. ‘n Nagmerrie wat ek die vorige nag gehad het, eindig stomp. Ek verlos nog ‘n bladsy om die volgende een te sien. Hier wil ‘n pen nie meer werk nie, die deurskynende geskribbel getuig van ‘n angstige, 27-jarige millennial-hart wat iets eenvoudig móét neerpen. Daar gil ‘n selfvervullende profesie in hoofletters. Doer is ‘n zen-oomblik met ‘n Psalm-vers. Ja, ou notaboekies is so morsig soos die lewe self.

AB5F18B7-943C-4312-9EBF-3353C458A9F5 (3).jpeg

In jou bors is ‘n unieke hart wat bly raak oor klein dinge, groot dinge, en vir ander soms lawwe dinge. Ek glo dis liefdesbriefies wat in jou dag skuil om gevind en oopgevou te word. Hierdie briewe moet oorgeskryf word, anders sal jy vandag afskryf as net nog ‘n gewone dag.

Dalk gaan my liefde vir notaboekies oor die soeke na ooptes. Spesifiek die ruimte wat ons mekaar gee om te wees. Om te kritiseer en te oordeel sonder liefde is staalwol vir die siel. Ons weef mekaar vas met oordeelsinne. Dis ‘n gif in gesinne, dis ‘n onding in die wêreld. Om mekaar spasie te gee om foute te maak, om drie-punt-draaie na die lig te poog. En dis presies wat ‘n oop bladsy doen. Sodat jy kan terugkom en kan lees tussen die lyne van jou lewe. En wie weet, ‘n raps wyser kan raak.

Ernest Hemingway het eenkeer gesê: “You only see one tenth of an iceberg, but it’s the hidden nine tenths that holds it up.” Hy’t gepraat van die mense in sy stories, hul agtergrond en wat het met hulle gebeur voordat die storie begin het. Dalk moet die nege-tiendes neergeskryf word, sodat die een-tiende minder gekoek is.

Een tragedie van hierdie aandskoflewe is dat ek vroegoggende misloop. Met die Vrystaatse winter wat kort op ons hakke is, is mistige oggende ‘n gereelde verskynsel. Dis dan wanneer die lug gevul word met vars wonderwerke, gedagtes en koffiereuke. Dis die moeite werd om ‘n uur slaap te verloor en, en notaboekie in die hand, die nuwe dag in die oë te kyk.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s