My Hemingway-waagstuk

Die kortverhaal fassineer my. Dit daag jou uit om treffende karakters lewe te gee en ‘n storielyn met impak te laat ontrafel. Die ideaal is dat die leser nie ‘n speld kan indruk nie, soos ‘n skrywer dit eenmaal gestel het.

Hoewel ‘n volgende roman nog altyd broei, bied oefening in dié soort kitsfiksie my die geleentheid om die fynere kunsies te vervolmaak. Daarom is ek super opgewonde oor die Literêre Kort- en Kitsfiksie-Kurus wat ek deur SA Writer’s College doen.

My mentor, Maya Fowler, woon in Kanada en ons het in ‘n vorige leeftyd saamgewerk en pelle geword. En soms het ek die voorreg gehad om haar modelkatkinders te babysit 🙂 Maya is ‘n uitmuntende skrywer, vertaler en redigeerder. Haar eerste roman, The Elephant in the Room (Kwela Books) was benoem vir die Herman Charles Bosman-prys (hier’s ‘n lys van al haar boeke ). Ook het sy die veelbekroonde  Plaasmoord van Karin Brynard in Engels vertaal.

Om ons aan die gang te kry, moes ons ‘n Hemingway-kortverhaal voltooi. Al wat ek gehad het om mee te werk was die eerste twee paragrawe van Hills Like White Elephants*. Sonder om die storie te ken, moes ek die res van die verhaal in 1 500 woorde inkleur. Ek het probeer om die gestrooptheid wat so eie aan Hemingway is na te boots.

Dis baie toevallig dat sy kortverhaal in Spanje afspeel en dat die kursus se eerste module juis dié kortverhaal as oefening gebruik. My debuutroman, Ctrl Z my lewe, speel ook daar af omdat ek meer as ‘n dekade gelede daar gebly het. Dit was heerlik om die omgewing reeds te ken!

Voor ek te veel babbel, hier is my poging, laat weet wat jy dink! Aan die einde plak ek ‘n skakel na die ware jakob, wat ons natuurlik eers ná die tyd mag gelees het…

Heuwels Soos Wit Olifante

Die heuwels oorkant die Ebrovallei lê asvaal. Waar hulle sit is geen bome en skadukolle in sig nie. Die stasie is tussen twee spoorlyne in die son. Dit gooi ’n warm skadukol. ’n Gordyn van bamboeskrale om die vlieë buite te hou hang oor die ingang wat na die kroeg lei.

Die Amerikaner en die meisie sit by die tafel in die stasiegebou se warmgebakte skadu. ’n Sneltrein vanaf Barcelona sal binne veertig minute kom. Dit hou by hierdie kruispunt vir twee minute stil en stoom dan voort na Madrid.

Sonbesies en stilte kleur die oggend met moeë hale in. Behalwe vir hom en Sofia en ’n paar siele in die kroeg, is dit ’n verlate stasie, warmgebak in die middel van nêrens. Jo is nie ’n stadsman nie, en soek sy lewe deur na dié soort ongereptheid. Die vrou voor hom is so ’n opregte skoonheid. Hy kyk lank na haar. Binnekort is die trein hier, en hy sal ’n ander een moet vat, lughawe toe.

In kontras met die stilte, maal ’n duisend woorde in sy kop. Al die sinne wat die tien dae tussen hulle gesê is. Soms saggies om ’n heilige woud te respekteer, soms hard en luidrugtig om mekaar agter ’n watervalgordyn te hoor.

Sy duim klik, klik, klik die knoppie op sy digitale kamera. Hy sug en kyk na die skerm tussen sy reuse hande. Herinneringe flits voor hom. Hy gaan terug tot by die eerste foto wat hy in hierdie land geneem het. Plootjies om sy mond span saam om ’n skuins glimlag te vorm.

Dis ’n greep uit ’n wonderlike begin. ’n Uitgewaste deur lei na ’n speelgoedwinkel, of eerder die hospitaal vir slenterspeelgoed, in Calle de Grenada. Hy het daar en dan besluit om hom los te maak van die res van die BBC-span en Hospital del Juguete binne te stap.

’n String klokkies het sy koms aangekondig. Nog voor die ou man in die winkel hom kon verwelkom, het hy haar agter die toonbank gewaar. Sy was besig om ’n pop se been te heg. Hy kon voel hoe bloed sy gesig verlaat toe sy opkyk. Jo kon nie sy oë glo nie.

Die vrou lyk presies soos Lydia, al is dit ’n veel jonger weergawe. Bo haar is ’n prent van ’n pop. Die plakkaat moet uit die tagtigs dateer, maar die pop is die een wat sy nou in haar arms het. “Esta es la Nancy de verdad”, “Hierdie is die regte Nancy”, lui die opskrif.

Die ou man, die enigste ander mens in die winkel, het sy bril op sy neus verstel, Jo se uitgewaste gelaat nie gesien nie en dadelik weggevaar oor die “hospitaal” se ryk geskiedenis. Met sy gebroke Spaans kan Jo net hier en daar die storielyn optel. Maar hy het die idee gekry sy terugvoer is geensins van belang nie. Die man het nodig om te praat, en, nes die klokkies, begin hy outomaties sy verhaal sodra iemand sy afgeleefde winkel binnestap.

Ook Jo het homself ’n storie oor en oor vertel. Dat sy vrou oorlede is. Dat ’n deel van hom dood is. Dat die reisprogram al is wat hy het.

Jo sien nie die ou karre gemonteer teen die muur nie, ook nie die hordes antieke speelgoed waarna die man verwys nie. Sy hele wese is bewus van die twee waterkuile wat hom vanaf die toonbank volg. “Hallo, my naam is Sofia,” sê sy. Hy stap nader en soen haar vlugtig op beide wange. Hy was al voorheen in Spanje en weet hoe hulle te werk gaan. Vir hom was die soene ’n lastigheid en teen die grein van sy geaardheid. Nou kielie die fyn haartjies op haar wang vlugtig sy lippe en ’n heerlike onrustigheid pak sy binnegoed. 

Hy vat ewe galant ’n tree terug. Tel fronsend ’n versamelkarretjie op om sy gedagtes agtermekaar te kry. Haar pa laat hom nie onderbreek nie, en pruttel voort met sy eenmanverhaal.

“… En toe, in September 1952 tref daai plastieknonsens Spanje. My vriend, dit was die hospitaal se einde.”

“Hoe so? Uh… jammer om te hoor.” Jo was dankbaar vir Sofia se pa. Hy sou vlug as dit nie vir hom was nie.

“Wel, mense het besef dis baie goedkoper om ’n nuwe speelding te koop as om een hier te laat regmaak,” vertel hy terwyl hy ’n speelgoedtrein uit blik vanaf geroeste spore loswikkel.

“En kan alles hier reggemaak word?” wil Jo by die ou man weet. Die man is stil vir ’n hele paar tellings. “Ons probeer,” sê hy en torring voort aan die ou treinspoor se skroefies. “Ons probeer.”

’n Uur later, nadat die winkel se deure al gesluit is, begin hy hulle vertel van die dokumentêr; “BBC Travel: Galicia” wat hulle moet gaan skiet. Met die noem van die streeknaam kyk die meisie en haar pa meteens in mekaar se rigting. Die ou man laat hoor iets wat soos ’n lag klink deur sy snor.

“Maar dis waar ons wortels lê. Op Rupit!”

Jo kan nie sy geluk glo nie. Rupit met sy ou kasteel en groot geskiedenis was eerste op sy lys. Dis die hart van die streek.

Hy kan die gryse omhels toe hy fronsend opkyk en in Spaans sê, “Sofia, wil jy nie die man gaan wys hoe ons wêreld lyk nie?”

Toe sy later opgestaan het en in die agterkamer verdwyn het, leun haar pa vorentoe, sagter.

“My dogter is nie haarself nie. Haar ma is onlangs oorlede… Miskien sal die reistog na haar verlede haar goed doen.”

Hy klik na die volgende foto. Hier leun sy teen ’n mosbedekte kasteel. Dit was die oggend toe die res van die BBC-span terug Londen toe is. Hy het besluit om langer te bly. Om die skaduwoud wat Sofia is, te ontdek.

“Sonder ’n tolk en toergids is ek verlore,” het hy geskerts. Of dit teen haar wil was dat sy langer as beplan bly, is steeds moeilik om te sê. Soos die klam groenigheid aan die dorpie se eeue-oue mure, is daar ’n misterie aan die vrou, en hou wou dieper delf en sy skoene vol modder kry.

Jo kyk op vanaf sy digitale kamera. Hul oë dans vir ’n blitssekonde. Sy draai haar kop heuwels se kant toe en sit haar sonbril op. Hy klik langsaam na die volgende foto.

Voor hom is die labirint, die een uit ou wynbottels. Die eerste dag saam met haar. Lydia sou nooit ’n labirint wou verken nie. Dis te volksvreemd. Die meisie voor hom se kimono wapper in die wind. Dalk is dit die Here se geskenk aan hom. Om troos te bring deur die vrou van sy hart, maar in ’n ander vorm. Hare wat na speserye ryk. Jo het vir homself gelag terwyl sy haar weg na die hart van die labirint vind.

Dit was ’n groot skrik met dag twee se hike. Sy het langs hom gestap en skielik vooroorgebuk langs ’n bos opgebring. Sy aanvaar sy sakdoek om haar mond af te vee. “Perdon, dios mio.”

Oggendnaarheid, die manier wat sy haar maag vashou met elke tree na bo, wat hom laat verstar en agterbly terwyl sy voor hom uitstap.

“Hoe ver is jy?” waag hy.

Haar gesig is bleek.

“Catorce semanas.” Veertien weke.

En so het hulle stories begin uitruil. Sy het vertel van die man wat sy in ’n kroeg ontmoet het. Hy het nooit die volgende dag gebel nie. Van haar skaamte en hoe haar katolieke pa en familie niks mag weet nie. Oor haar seer en verlange na haar ma, wat skaars ’n maand gelede in ’n fratsongeluk gesterf het. Na die aborsie wat wag.

Een oggend voor sonop het hy agter haar aan gestap, die woud in. Sy het sy linkerhand opgelig, en sy trouring uit bamboes van naderby bekyk, en toe weer sy hand gelos, soos ‘n nagedagte. Hy wou verduidelik dat sy geliefde nie meer leef nie… dat hy in die nege jaar homself nog nie so ver kan kry om dit af te haal nie. Hy wou vir haar sê dat hy die swaar verlies ken, maar dit was nie nodig nie. In die duister het die dag soos ’n geheim deur die blaredag gebreek. Dit en die goue spikkels in haar oë hom duiselig gemaak. Die bitternag binne hom getroos.

Vanaf Rupit het hulle besluit om verder te reis. Hy aarsel ’n paar tellings en rig die skerm na haar toe om die volgende foto te wys.

“Kyk net hier.”

Sy lig haar sonbril en glimlag skalks.

“Noia was goed vir ons,” sê sy.

Die dorp is glo vernoem na Noela; die dogter van Noag. Die foto in sy hand is ’n selfie van hulle twee by ’n keltiese fees. Hier het hulle op ’n hooibaal gesit, hy met ’n Estrella Damm, sy met ’n Seven Up. Om elke hoek en draai was ’n blaasorkes. Hy het sy arm om haar gesit. Sy het gesug en teen sy skouer gerus.

Hy klik na die volgende foto. Sint Jacobus se standbeeld op die fasade van die Kerk van Santiago in Triacastela. Hulle het speels voor hom gestaan die volgende oggend. Waar hy hulle kamma geseën het.

“Sofia, ek sal elke maand kom kuier. As ek mag?”

“Jy ken my nie, Jo,” met haar palm saggies op haar sleutelbeen, selfbeskermend teen die idee van liefde. Sy sluk die laaste druppels in haar glas en staan op. “Totsiens, Jo.”

Hy het die kamera met die starende Sint Jacobus op die tafel gesit en opgestaan. ’n Trein jaag na hulle toe en hou meteens stil.

Dan soen sy hom innig, druk haar kop teen sy bors, draai om en klim op, sonder om terug te kyk.

“Jou tas!” skree hy, maar sy’s reeds weg. Hy tel koffer op en skrik vir die ligte gewig. Dolleeg.

*Hier is die eintlike kortverhaal.

Ek was in die wolke toe Maya se terugvoer in my bussie beland; 19 uit 20 met minimale veranderinge! Ek moet wel nog die historiese teenwoordige en verlede tyd onder die knie kry.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s