Vreugde in ‘n emoji-bal

Checkers is die ene rooi foelie en Boney M en familieverwagtinge. Claris deel waentjies vir al drie van ons uit. My ma neem hare nederig met ‘n knikgebaar. Haar hande reeds om die handreëling voor haar vasgeklem. “Voorgereg en snacks” is haar afdeling.

Ek haal my lysie uit. “Poeding!” skreeu die opskrif soos ‘n aantyging.

“Onthou die OBS,” sê my suster met wenkbroue wat tot by haar haarlyn lig.

“Dis my eerste prioriteit,” sê ek sag in die wegstap.

Drie bokse jellie in al drie verkeersligkleure, ‘n blik kondensmelk, die bruin bottel sjerrie en ‘n houer kersies val soos skote in my waentjie. Dan briek ek in die speelgoedgangetjie. Ek dink aan die angstigheid in my suster se oë; die koelronde bult onder haar rok.

Ek loop tot by ‘n reuse net vol sagte balle met fluffy emoji-gesigte. Een lyk geskok, een huil, en een lyk vol stoute planne. Die bloue met die skerppunttande en uitpeuloë vang my oog.

“Oppas!” skree ek terwyl ek mik om die bal by die net, wat ‘n goeie drie meter hoog is, uit te gooi.

Te laat. Dit beland op ‘n bejaarde se kop. Claris verskyn grootogig drie tree agter die man, wat nou sy kop vashou en die skade assesseer.

Ek hou my hand voor my mond, deels uit skok, deels om my lag te verberg.

“Sorrie, Oom!”

Die man glimlag verleë. Ek voel hoe gloei my gesig. Claris is steeds so wit soos die net wat alles probeer binnehou. Sodra ons uit die gangetjie ontsnap en mik vir die gaskoeldrank, bars ons albei uit van die lag. Ek is so bly sy ontspan. Ek spin die blou bal bo-op my wysvinger terwyl ons die laaste goed vir haar afdeling, die hoofmaal, kry. Sy oë lyk of dit wil uitpop en sy skerp tande lyk nogals aggresief, merk ek. Claris sê, nee, hy lyk opgewonde. Ek betaal vir die bal, ‘n DIY-tydskrif, en die nageregbestanddele. My ma en suster hou aan admin gesels. Vier hande bou stil sinne in die wonderlike geraas. Die ronding tussen hulle ‘n tydbom sonder tande. Kersfees en skreeugeluidjies kom.

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s