Benjamin (17 dae)

En so van aliens gepraat, jy is ons huidige buitenste ruim. Ondenkbaar klein kompleet met jou eie smaak en kyke. Altyd twee niese opmekaar (maar dit is jou glo jou pa se ding wat jy gecopy en paste het). Ek is bly om te sien jy raak die planeet ‘n bietjie meer gewoond. En nou’s white noise en spoegdoeke deel van jou ouers se daaglikse wentelbaan.

Ek vermoed hulle is besig om die plot te verloor. Kondig nou die dag trots aan dat hul slaapkamer die voorkoms van ’n baarmoeder ingeneem het; die ene rooi ligte en kussings. Are wat teen die muur afloop, dis nou die fairy lights. In die buik van slapeloosheid hoef hulle ook nie meer woorde te gebruik nie. ‘Een kyk en alles wat nodig is word deur ons pupille gesê,’ verduidelik jou pa glinsteroog oor ’n glas Tab. Ek dink daar lê nog lang nagte voor.

Saterdag het ek kom kuier. Jy is presies drie minute se Yaris-rit verwyder van my voordeur. Haastig gly ek oor kronkelende gomhobbels; ou krake toegemessel met warm teer, vandag onverbrokkelbaar. Dis dieselfde pad wat ek van die kerk gestap het. Nou hoor jy elke Sondag dieselfde klokke beier.

Jou handjies was toegeknyp, en jou ma het dit met ’n rympie probeer ontbondel soos wat jy in die mik van haar bene lê (die vuisies moet oop, sê die boeke). Julle albei was ewe gefassineerd; elke vinger lig met sy eie ’n sinnetjie. En dit eindig in ’n maagkielie en baie lag. Glo my, “Varkie Parkie” het my net so betower, maar dit was die anderster lig wat uit my suster skyn mat my laat terugleun teen die kamer se maagwand om die oomblik soos ’n 3D scan in my geheuebank vas te plak.

Waarna gaan jou hande eendag uitreik, wonder ek. Ou Havelock Ellis (ironiese naam vir ’n anti-vatter) het gesê die kuns van leef lê in die fyn balans tussen vashou en laat gaan. Laasgenoemde kan ’n doringdraad wees, maar die uitsig is altyd die moeite werd, Bennie.

En êrens in ’n ouetehuis rus ’n hand op ’n blommetjieskoot. Blou are klem ’n tweedehandse snesie vas. En skielik word die vingers ’n verskietende ster in slow motion. Oop om die hemelruim te omhels.

Dalk is ons hande soos blomme, dit begin en eindig toe en êrens in die middel gaan dit oop om te ontvang en te gee… en soms is daar kneukels met vuiste vol verwyte. Ek weet nie baie van die wetenskap nie, maar ek weet ’n oop hand kan vir ’n vreemdeling waai, ’n stoppelbaard streel… dit kan netjies opmekaar pas vir free minutes met jou Skepper… en ek hoop ek’s die eerste een om ’n properse high five van jou handjie kry.

Vir nou het jy my volle toestemming om, met papierdun naeltjies en al, aan die onsigbare veiligheid van die Bornman-broeikas te klou met alles wat jy het.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s