As die maan in jou keel beland

“Ja, ek wéét dis malligheid om so ver van die werk te bly. Maar ek woon so half in die hemel . . . en dis die langpad werd,” sê ek vir Lize, my aandskof confidante. Haar bekommerde kyk vervaag net effens.

Twee pole skei my dag. Soggens hoor ek trekkers, saans die lieflike geraas uit Roggebaai se krop; karre, rukwinde en verskeersligte wat kerm (ja, selfs die ligte raas).  En soms kom plaas en nuus byeen in ongenooide rillerstories. Dis eers op die N1 wat Maandag se stof gaan lê; die pad ‘n eenmanlandskap bespikkel met trokke.

In die ry kyk ek kort-kort af na my foon, op soek na die regte podcast. This American Life verg binnegoed, en Ravi Zaccharias se Let My People Think-kanaal is so bekend en vertroostend, dat ek bang is dit sus my aan die slaap. My foon klap hard in die gleuf langs my handrem; stilte sal my moet huis toe begelei.

Vrees en verveeldheid flits in gelyke skeute verby. Dit was ‘n gewone skof by die koerant se nuuskantoor. Die N2 vang al die aandag, sy gedwee niggie, die N1 is slegs daar vir Punt B-doeleindes. Ek sug teen die eensaamheid.

Verby ‘n verlate Ratanga Junction pluk ek uiteindelik my dooie oorfone uit en dink na oor die brokkies wat ons vanaand moes deurgaan, verpak, koppe skryf tot saktyd. Die Rhode-saak, Poppie se ouers… die lesersfoto wat troos. Oor die bult, verby Mike Pienaar slaan my binneste bollemakiese. Die maan val my moedeloosheid geheel en al in die rede.

Op ‘n gewone volmaannag kyk ons op na ‘n Disprin in die hemelruim, soos wat Kaleidoskoop sing, maar vanaand het ‘n ongekende vlammebal afgekom om my vol in die oë te kyk. Ek wonder vir hoe lank het my mond oopgehang, vir hoe lank was alles in slow motion. Soms gooi die hemelruim sy eie podcast.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s