My kat word herfs

Ek het iets om te bieg.

Soms koop ek boeke net omdat die naam of omslag vir my mooi is. Ek het hierdie boek aanvanklik bestel op Loot bloot omdat ek absoluut gaande is oor die titel. Barry Hough pruik nou vir die eerste maal in my boekrak, maar nadat ek dié klassieke jeugboek binne ‘n dag en ‘n half verorber het, kan ek jou verseker dat al sy boeke kort voor lank ook staanplek sal kry.

Hiermee dan ‘n gedeelte wat gaan oor die skoolinspekteur wat Danie, die hoofkarakter, se opstel oor herfs voor die klas lees. Danie se skoukat, Neffie, is die middelpunt van sy bestaan.

Meneer Du Toit maak sy keel skoon en begin lees: “My kat word herfs.” Hy kyk na Danie. Iemand in die klas proes. Daar is ‘n gefluister in een hoek. Hy begin weer. “My kat word herfs.” Dié keer lees hy verder. Die klas hoor hoe kampioen Nefertiti, toe sy klein en in haar lente was, die kleur van room gehad het. Die belofte van ‘n naderende somer het ‘n blos van goudbruin op haar ore, pote en stert gebring. Hoogsomer was haar dun pote soos lote wat hardehout geword het. Haar punte was toe swartbruin, soos vrugbare grond ná ‘n donderstorm. En haar oë was blouer as die Hoëveld se lug op ‘n warm dag.

Die inspekteur lees stadig, met gereelde pouses. Dis of hy die woorde uit beskermende watte haal en hulle versigtig, een vir een neersit. Hy pak die res van die opstel met sorg uit. In woorde met ronde klanke lees hy hoe Nefertiti ryp geword het en vrug gedra het. Hy lees van Neffie se kleintjies.

Danie luister aandagtig. As hy maar net sy mondeling só kan laat klink!

“En nou word sy herfs. Die jare sit ‘n blaarbruin saal op haar lenige rug. Haar stert word dikker, soos ‘n wingerdstok wat al seisoen op seisoen gedra het.”

Meneer Du Toit blaai om en lees die laaste paragraaf. Daarin het Danie geskryf van sy vrees vir die winter wat moet kom. Hy weet dat die herfs ‘n voorspel is tot ‘n tyd wanneer takke verder breek en blare verpoeier. Die laaste sin is ‘n herhaling van die eerste. “My kat word herfs.”

my kat word herfs

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s