’n Namiddag in Sombreria Obach

Ek en die man wie se hart in my besit is stap lusteloos deur El Barri Gótic. Huistoegaantyd is om die draai en ons besin oor wat ons met ons laaste twee dae en handvol Euros in Barcelona kan doen voordat ons paaie skei.

el-gotic-barri-gotic

Ons is oortuig die stad kan ons niks meer wys nie. Casa Bitiló, die Montuic-kasteel, Park Guell, Gaudi se woning . . . Ons het ons selfs een aand bewonder aan twee fopdossers wat Neruda se gedigte in ’n straatkafee in die George Orwell-distrik voorlees.

Op die klippaadjie met die winkelvensters wat een-een aangeskakel word stel my eksentrieke geliefde voor ons koop iets vir my oupa by die huis.

Ek het gedink hy is verspot. Deur die hippie-winkels en -stalletjies pas ons alles van rasta-T-hemde tot goth-stewels aan. Wat sal daar vir my oupa wees behalwe ’n sakkie “volksvreemde” tabak?

Ingehaak teen die koel herfswindjie, vang ’n hoekvenster ons oog.

’n Antiek gekerfde houtraamvenster stel ’n fees van hoedens ten toon. Geruite kardoesiehoedjies; ronde bal-hoedens met netjies omboorsels. Vere, fluweel, fraaiïngs en tossels, slierte, pomp-pom-musse, harde strikke wat nooit beweeg nie. Slap hoedens uit vervloë jare. Dié wat staan met sulke flambojante versuikerde spirale.

“Sombreria Obach” is die woorde uitgekerf bo die deur. Ons weet ons mag nie ’n treë verder stap nie.

My kêrel trek die reuse glasdeur vir my oop. ’n Fyn klokkie kondig ons amper sprokiesagtig ons aan.

Met die intrapslag is ons verstom; daar is geen hoed in sig nie, net honderde wit laatjies van die dak tot die vloer. Soos boeke in ’n biblioteek gerangskik in die Dewy-sisteem, is daar ’n wit plakker op elk netjies geraam met ’n tikmasjien-getikte kode op. Uit die nuut verskyn ’n kort ou mannetjie met ’n haakneus.

“Venga, venga, mi amigos,” roep hy ons sonder ’n glimlag binne, sluit die deur vinnig agter ons.
In stilte haal hy ’n maatband uit sy hempsak en begin ons koppe metodies meet asof dit die natuurlikste ding op aarde is om te doen.

Die koue plastiek hier by my wenkbroue en onder die bopunte van my ore laat giggel. Die haartjies op sy neus laat terugverlang na my oupa en ek onthou dadelik van ons aanvanklike missie.

“Yo busco algun paro mi. . .,” begin ek met my beste Spaans, maar hy knik tevrede met sy wysvinger op die maatband sy kop en stap reguit na ’n laai.

Die mooiste fedora wat ek al in my lewe gesien het word op my kop gesit. Wynrooi met ’n pikswart en parmantige veer; ek móés dit net hê.

“Lykmy hy’s ’n stileerder ook,” merk my kêrel op terwyl ons verkoopskonsultant die hoed hier liggies draai, daar ’n trek gee en die veertjie regtooiing, selfs ’n paar van my slierte soos ’n streng Huishoudkunde onderwyser in plek sit.

Daarna is dit my liefling se beurt. Die mannetjie het met sy wysvinger nog so in die lig die rakkies een vir een geskandeer. Regs bo het hy met ’n stok die laai oopgetrek.

’n Poor boy hoed het te voorskyn gekom. “Dis perfek vir my oupa! Wat is tog die Spaans vir Oupa?” vra ek myself hardop in plat Afrikaans terwyl ek deur my sakwoordeboek blaai.

Die mannetjie prop oombliklik die maatband in sy sak en kyk my lank in my oë. Sy bril weerkaats die goue lig bo sy kop, maar iets in sy kyk sê hy verstaan. Hy stap reguit na ’n rak en sit ’n geruite slapraamhoed op die toonbank onder my neus.

Ek is verstom.

“Mil gracias!” roep ek uit.

Ek rangskik my laaste rol Euros op die toonbank en gee die man ’n vet soen op elke wang. Hy sluit die deur vir ons oop met ’n glimlag en die sprokiesklokkie is die laaste koebaai.

Ek is gereed om huis toe te gaan.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s